19 Maart 2018

God van hoop

Goeiedag liewe mense.  Ons Hemelse Vader seën julle in Jesus se heilige Naam.
So 'n tyd terug in die kommentaar op 'n nuusartikel, skryf 'n vrou dat ons geen hoop meer het in die land nie en dat selfs Jesus hoop opgegee het oor Suid-Afrika.
Wat 'n leuen, want die vers op die foto kom toe dadelik na my gedagte.  Waar sal God hoop opgee oor ons land as Hy dan die God van hoop is?!  En Jesus is die fondasie van ons hoop!
Ek kan nie glo Christene praat so sonder hoop, so ongelowig nie.
Laat ons aanhou bid vir ons land vir genesing.  Niks is vir God onmoontlik nie.  God werk met ons geloof.  Laat ons vuriglik bid in geloof.  Sonder geloof is dit onmoontlik om God tevrede te stel.
Ons moet glo dat God ons land sal genees, mense se harte sal genees van al die haat en rassisme en onvergewensgesindheid van beide kante.  Laat ons ook ons deel doen en soos Christus optree en praat teenoor ons naaste.  Die liefde oorwin alles.
Die Here het ons nie vergeet nie en Hy sal ook nooit nie.
Die Here is gretig om ons genadig te wees
en Hy wil Hom oor ons ontferm:
Die Here is 'n God wat reg laat geskied,
en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.
(Jesaja 30:18)
Mag julle 'n vreugdevolle dag hê.
https://youtu.be/z6uSx1oPaNE

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking