Sondag, Augustus 19, 2018

Hanna se gebed

Geseënde dag in Here Jesus vir julle.🤗♥️

Vandag toe vat die Here my na Hanna se gebed. Ons moet die Here ons God loof, Hom prys, Sy Naam hoog lig!
Ons moet ook reguit ons vyande en die vyande van God aanspreek wanneer hulle hoogmoedig is en aanmatigende dinge sê, soos Hanna gedoen het!
Vers 3 het my weereens aan sekere politici laat dink. Die Here sal die boog van die magtiges verbreek (hulle dink mos hulle is so magtig, praat selfs teen die Allerhoogste se Gesalfde!).
Vroeëer of later gaan die Here hulle straf!

Ek bid vir hulle, want hulle woorde kom van bose geeste. Ek bid vir hulle verlossing, goddelike wysheid en insig en liefde in hulle harte vir dié vir wie hulle so haat.🙏♥️🕊️

🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🔥🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏

En Hanna het gebid:

“Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here.
Ek lag my vyande uit, ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het.
Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie.
“Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie, want die Here is 'n God van diepe kennis, dade word deur Hom getoets.
“Die boog van die magtiges is verbreek, dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry.
“Die Here maak dood en Hy maak lewend, Hy laat afdaal na die doderyk toe en Hy laat daaruit opkom.
Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle 'n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves.
“Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad, maar die goddeloses word stil gemaak in die duisternis van die graf.
'n Mens oorwin nie deur eie krag nie!
Dié wat teen die Here in opstand kom, word vernietig, van bo uit die hemel verbrysel Hy hulle.
Die Here spreek reg tot by die eindes van die aarde, Hy verleen krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”
1 SAMUEL 2:1‭-‬4‭, ‬6‭-‬10 AFR83


Saterdag, Augustus 18, 2018

Owerstes van Sodom, volk van Gomorra

Blye dag vir julle in Jesus.🤗♥️
God ons Vader seën asb. die woorde wat hier uitgaan in Jesus se Heilige Naam. Dankie Here.🙏

Kyk wat het die profeet Jesaja, die volk van Israel genoem! Onlangs toe sien ek 'n straatprediker in Israel preek tydens hulle 'Pride Parade' en toe ek vanoggend hierdie Skrif in Jesaja lees, toe dink ek aan Israel en hulle 'Pride Parade' vieringe.😥 Hulle was so destyds en vandag gaan dit nog erger. Dit is nie net Israel nie, kyk na die res van die wêreld...almal doen dit. So vandag pas ek dit toe op alle volke. Sodom en Gomorra was nie net skuldig aan seksuele sonde nie, maar allerhande bose dinge, moord ens. ook.

Ek kan net sê dankie Abba vir Sy grote genade en liefde vir die hele wêreld toe Hy Here Jesus vir ons gestuur het (Joh. 3:16) om ons te kom verlos van ons sondes en ons straf wat Hy in ons plek op Hom geneem het! Dankie Here onse GOEIE GOD!👐♥️🕊️ #Glo #Geloof #bekering
Lees asb. die Skrif verse wat volg en let op wat ek uitwys. Baie dankie.🕊️

Hoor die woord van die Here, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!
Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om my voorhowe te vertrap?
Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My.
Nuwemane en sabbatte,
die uitroep van samekomste —
Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!  👉Julle nuwemane en julle feestye
haat my siel; hulle is My ’n oorlas.👈
Ek is moeg om dit te dra.

En as julle jul hande uitbrei,
bedek Ek my oë vir julle;
ook as julle die gebed vermenigvuldig,
luister Ek nie: julle hande is vol bloed. 

Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,  leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.
JESAJA 1:10‭-‬17

En Hy het sy eie omheining soos ’n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes;  👉die Here het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet,👈 en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp.
KLAAGLIEDERE 2:6

👉Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie,👈  wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.
KOLOSSENSE 2:16‭-‬17


Vrydag, Augustus 17, 2018

'n Deugsame vrou

Geseënde dag in Jesus, kinders van die Here!🤗♥️
Manne van God, kyk wat sê God se woord oor julle...dat julle die goedheid van die Here geniet wanneer julle 'n vrou kry, want julle vind dan geluk!😁 Geniet julle vrouens, waardeer hulle. Wees lief vir hulle soos Christus Sy kerk liefhet.   God seën julle huwelike en jong mense, hou julleself rein vir die huwelik, God sal julle seën! En diegene wat nie hulleself rein gehou het nie, daar is genade en vergifnis in Jesus Christus, jy moet bely en vergifnis vra vir God.

En kyk daai vers oor die stuk grond wat sy koop🙂.... sy gaan vat nie 'n stuk grond wat iemand anders alreeds op woon en voor betaal het nie! Hoor julle ANC, wat alle grond vir julleself as regering wil inpalm!🤔

(Ek soek deur die stickers vir 'marriage/wedding' stickers om een saam met dié post te plaas, en dit is net selfde geslag stickers, nie heteroseksueles nie.🤔)

Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
EFESIËRS 5:25

’n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos ’n verrotting in sy gebeente.
SPREUKE 12:4

Van sy ouers kan iemand 'n huis en besittings erf, maar 'n verstandige vrou is 'n geskenk van die Here.
SPREUKE 19:14

'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.
Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.
Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank.
Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het.
Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie.
As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.
Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie.
Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word.
SPREUKE 31:10‭-‬12‭, ‬16‭, ‬20‭-‬20‭, ‬25‭-‬27‭, ‬30


Donderdag, Augustus 16, 2018

Waak oor jou gedagtes

WAAK OOR JOU HART, JOU GEDAGTES.
Geseënde dag vir julle in Jesus.
Daardie vers is só waar! Ons moet waak oor ons gedagtes. Dit wat ons dink, wat kom uit die hart, bepaal ons hele lewe, want in ons harte is waar die sonde begin. Soos Mattéüs 15:19 ook sê: "Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal."
Al daai dinge bepaal ons hele lewe. Ek het eerstehandse ervaring van dit. Dinge wat mens nooit ooit moes gedoen het nie, maar in mens se selfsugtigheid dink jy nie aan die gevolge en aan ander nie.
Geen wonder die woord sê ook in Filippense 4:8, "Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit."
So laat ons nie dink en tob oor verkeerde, bose dinge in ons gedagtes nie. Bv. moenie eens aan selfmoord dink nie! Moenie dobbel met daai idee in jou gedagtes nie, dink eerder aan iets goeds, iets moois, iets lieflik.
Moenie speel met daai gedagte om met 'n skelmpie 'n vlugtige oomblik van vleeslike lus te bevredig nie. Dit kom op die lappe en jou gedagte het jou hele lewe bepaal, jy skei dalk oor dit, dan voel jy so skuldig en oorweeg selfmoord, jou kinders is gebroke en het issues oor dit,' n hele kettingreaksie, domino effek, het jou een onheilige gedagte tot gevolg, dit bepaal jou hele lewe.
WAAK OOR JOU HART, JOU GEDAGTES.
#WaakOorJouHart #BedinkLieflikeDinge

Woensdag, Augustus 15, 2018

Die Gees van God is op jou

Goeie dag en mag God julle in alle opsigte vandag seën. Staan sterk, bid, druk deur as jy sukkel om op te hou met 'n verslawende gewoonte. Die Here is jou krag!♥️ Vra Hom. Jy kan dit doen. Die begeerte in jou hart om op te hou moet opreg wees. Deur Sy Gees sal die Here dit doen in jou lewe. Hy hou jou vas met Sy reddende regterhand. Hy maak daai deur toe in jou lewe en deure wat Hy toemaak kan niemand weer oopmaak nie.
Iemand het vir gebed gevra, want hulle wil ophou rook.  Ek gaan haar vra of ek haar naam hier kan opsit vir gebed. Dan kan ons haar in ons gebede opdra vir verlossing van die rook gewoonte.
Ek het ook in my lewe gesukkel met 'n verslawing. Ek was te lief vir my wyn. Ek het gesukkel om op te hou. Ek het die Here gevra om my te help, want ek kon nie in my eie krag nie.
Toe raak ek siek van erge bloedverlies en ek word deur die siekte geforseer om op te hou en ek roep uit na die Here om my asb. gesond te maak, dat ek nooit weer alkohol oor my lippe sal laat kom nie as Hy my genees.
Ek het 6 pinte bloed gekry, dokter het gesê ek kon hartversaking gehad het as ek langer gevat het om 'n dokter te sien.
Hy het ook gesê dat my hart 'n knou weg het van die erge bloedverlies wat my hart verskriklik vinnig laat klop het.  Ek het lank gevat om dokter toe te gaan, want ek het gedink dit is as gevolg van die wyn drinkery en ek was skaam daaroor. Kan mens nou so onnosel wees!
Na die eerste pint bloed begin ek al sterker voel, waarlik lewe is in die bloed! ("want die lewe van enige dier is in sy bloed. Ek het vir julle die bloed gegee om daarmee versoening te doen vir julle sondes. Bloed verteenwoordig lewe en dit bring versoening."~LEVITIKUS 17:11 En nou het ons die ewige lewe deur Jesus se bloed wat vir ons versoening met God gebring het deur die Nuwe Verbond in Sý bloed!)

Na 5 dae en 6 pinte bloed stap ek uit daai hospitaal en nie een oomblik het ek ooit 'n begeerte na wyn gehad nie, nog nooit weer nie.

Dit is nou al amper 9 jaar dat ek opgehou het.
Deur siekte het die Here my verlos van die wyn.
Alle eer aan God, want ek kon nie uit my eie nie.  En eers in 2011, omtrent 2 jr later, het ek werklik bekeerd geraak, want die Here het aan my hart gewerk om te bekeer van ander dinge en my sondes te bely wat ek nog nooit gedoen het nie.
Dinge het toe onmiddelik begin verander in my lewe, my musiek smaak en baie ander dingetjies en die Here het nuwe begeertes in my hart gesit en daarom weet ek ek was in 2011 eers werklik bekeerd, want voor dit het ek vir jare gebedjies gedoen dat ek glo in Jesus, maar ek het niks bely en bekeer van my sondes nie, daar was nooit verandering in my nie (bv. die wyn). So ek weet ek was nooit voor dit werklik weergebore nie al het ek myself altyd 'n Christen genoem.
Mense, omdat Ma en Pa Christene is, maak nie vir jou weergebore nie. Om kerk toe te gaan omdat Ma jou laat gaan, maak jou nie weergebore nie. Omdat jou Pa dalk 'n prediker is, maak jou nie weergebore nie.
Dit is 'n persoonlike gebeurtenis tussen jou en God. Ja jy gaan die verlossingsboodskap gepreek hoor, maar dit doen dalk niks aan jou nie, jy gaan maar net aan soos altyd in jou sondige leefstyl.  Ek het!
Hopelik word daai saadjie geplant en later van jare kom gee iemand daai saadjie water en die Here bring die oes in, in Sy tyd, op die regte tyd en jy sal wéét dat jy wéét jy is weergebore. Mense wat jou ken sal oplet jy is anders.

Prys die Here vir Sy genade. Hy is darem baie geduldig met ons tot daai dag wat ons uiteindelik weergebore word.
Goeiste mense, ek het nie bedoel om die boodskap te skryf nie, ek wou oor die vers in die prentjie skryf, maar die Here het my oor iets heel anders laat skryf!☺️ Daar is seker iemand wat nodig het om dit te hoor.♥️

As ek nou oor die bybelvers in die prentjie gaan skryf, gaan die post 'n boek wees en gaan julle nie lees nie.😬😄
So ek gaan dit kort en kragtig hou!
Laat die woord van God práát!

BELEDIG TER WILLE VAN CHRISTUS:
Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie.
Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.
Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.
Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus.

DIE GEES VAN GOD IS OP JOU:
Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.😊👐♥️🕊️(Ek word baie beledig ter wille van die Naam van Christus. Ek is seker julle ook wanneer julle oor Hom praat, veral hier op sosiale media.)
As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy 'n moordenaar is of 'n dief of 'n misdadiger of 'n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie.
Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.
Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God.
En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie?
“As 'n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van 'n goddelose en 'n sondaar?”
Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.
1 PETRUS 4:12‭-‬19


Dinsdag, Augustus 14, 2018

Moenie sondig nie

Goeie dag vir julle kosbare mense.♥️
Mag God ons Vader jou genadig wees en mag Hy jou die begeertes van jou hart gee soos jy jou in Hom verheug. In Jesus se Naam. Dankie Here.
Ons moenie sondig nie. Ons word gesê in God se woord om nie te sondig nie. Ek weet ons as Christene maak foute en daarom sê God se woord ook dat indien ons sondig, het ons vir Jesus as Voorspraak by Vader.
Dit beteken nie ons kan nou lekker voortploeter in sonde nie, want daar is 'n sonde tot die dood toe en dit is opsetlike sonde.(1 Joh. 5:16-17)
Wanneer ons in opsetlike sonde is, wandel ons in die duisternis. Dan lieg ons dat ons die Here ken.
En kyk hoe kan ons keer dat ons teen die Here sondig... ons bêre God se woord in ons harte. :) God se woord leer my wat ek moet en nie moet doen nie en hoe ek moet leef.  Dit sê vir my wat Jesus ons beveel om te doen. Dit waarsku my.
Ek verstaan hoekom die duiwel nie wil hê ons moet Bybel lees nie, want dan groei ons nie geestelik nie.
Toe ek bekeerd geraak het, het God 'n honger vir Sy woord in my hart gesit en ek glo Hy doen dit met elkeen van ons, maar ons raak laks in Sy woord wanneer die wêreld ons terugroep in al sy verleidinge en ons terugval in sonde. Dan hou mense op Bybel lees, want altyd sal die woord wat 'n tweesnydende swaard is, diep tot in ons harte sny en ons waarsku oor ons sonde waarin ons is, en baie van ons wil dit nie hoor nie.
Dank aan ons God vir Sy grote liefde en genade en vir Sy woord wat vir ewig bly. Vir ewig staan God se woord vas in die hemele.

Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
PSALMS 119:11
As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.
I JOHANNES 1:6
My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.
I JOHANNES 2:1

Veg die stryd deur die Gees

Dit mag lyk of ons omsingel is deur die vyand, maar die Engel van die Here trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. (PSALM 34:8) Dit is hoe ons die stryd veg, nie deur krag of deur geweld nie, maar deur die Here se Gees, sê die Here van die leërskare. (SAGARÍA 4:6)