Saterdag, Augustus 27, 2016

Is jy 'n vyand van God?

Verlang ons as Christene terug na die vleispotte van Egipte?  Verlang ons terug na die verkeerde dinge wat lekker was, waarvan die Here ons verlos het?  Smag ons om weer deel te hê aan die wêreldse dinge?  Indien dit so is, is ons vyande van God.
As Christene moet ons uitstaan van die wêreld.  Ons moet ons eenkant hou.  Ons moet wegbly van die wêreld se dinge.  Ons moenie deelneem aan dit nie.  Ek dink nou spesifiek aan die Pokémon speletjie.  Dit is van die wêreld en dan lees mens nog boonop dat dit met okkultiese magte te doen het, met spesiale "kragte" en dan beteken Pokémon "pocket monsters".  Sak monsters!  My maggies mense, wat het Christene met sulke dinge te doen?  Hoe eer ons die Here ons Heilige God met dié wêreldse dinge?  Jy weet, as iets net effens neig na die okkulte se kant toe moet ons ver wegbly van dit. 

Dit is nie net oor die speletjie Pokémon nie.  So baie ander wêreldse dinge wat Christene in betrokke raak.  Ons is kinders van 'n heilige God, 'n  uiverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig!

Ons is bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld.  So hoe kan ons nou net soos die wêreld raak en hou van dié dinge wat die wêreld van hou en aanhang?  Ons optrede moenie wees soos die van die wêreld nie.  Die wêreld jaag Pokémon monsters, ons gaan die teenoorgestelde rigting, ons jaag Jesus na, om meer soos Hy te wees. 
Ek sien nou die dag 'n video van 'n klomp mense met selfone in die hande wat deur die Pokémon speletjie gelei word na 'n plek waar die sogenaamde monster nou te vinde is.  Weet julle hoe lyk dit om almal so te sien loop met selfone in die hand al soekende?....hulle lyk soos zombies.  En hulle is van die wêreld, maar die hartseerste van alles, onder hulle is Christene!  My broeders en susters in Christus wat lyk net soos die wêreld, wat doen net soos die wêreld, wat nie uitstaan nie, wat nie eenkant van hulle is nie.

Kyk ek verstaan ons kan nie onsself heeltemal onttrek uit die wêreld nie, want dan is dit onmoontlik om mense te vertel van die Here en te wys hoe lyk en tree die Here se kinders op.  Ons is in hierdie wêreld, maar nie van dit nie.

Ons moet net onthou dat ons ambassadeurs van Jesus op hierdie aarde is en ons het 'n plig om almal van Hom te vertel en wanneer mense na ons kyk, hoe ons lewe, moet dit hulle trek na Jesus!  Nie na Pokémon of wat ookal wat van die wêreld is nie.

Net soos in die kerkgeboue, hulle probeer die wêreld innooi met aardse plesiere, vleeslike plesier.  Wat het geword van die wêreld roep na Jesus met die evangelie?  Dit is deur die Goeie Nuus te hoor dat mense na Jesus toe getrek word, want geloof kom deur die boodskap te hoor.  NIKS anders kan hulle trek na die Here toe nie.  Die kerk (óns is die ekklesia, nié die gebou nie) moet nie soos die wêreld klink en lyk en optree nie!

Laat ons 'n lig wees wat in hierdie donker wêreld skyn.  Laat jou liggie skyn.  Ons is die lig van die wêreld.  Vermy die wêreld se dinge.  Laat alles wat ons praat en doen die Here ons God vereer.  Hy is heilig en Hy sê vir ons om heilig te wees soos Hy.  Dit is nog 'n ding...praat mens oor dié dinge dan word jy as "hoogheilig" gebrandmerk, maar daardie lou Christene kontrasteer wat God, wie hulle sê hulle aanbid, vir hulle sê om te wees!  Hoe hartseer is dit? :'(

Dit is 'n hartseer dag wanneer sogenaamde Christene teen jou kom oor jy net sê wat God sê in Sy woord.  Ek wonder, kom die wêreld teen jou?  Ek kan jou sê hulle kom teen my en dit laat my jubel, want dit wys ek staan uit, ek is op die regte pad met my God (en ek sê dit in alle nederigheid, want alle eer en dank gee ek aan God wat in my werk en nog baie het om in my te verander en Hy sal werk in my om my na die beeld van Christus te vorm totdat ek die dag huis toe gaan om by die Here te wees.  Tot dan is ek nog nie perfek nie.), maar wanneer veral gelowiges teen jou opstaan is daar groot fout.  Ek weet dit is nie teen my wat hulle kom nie, maar teen die Gees van Christus in my en julle almal, wat hou by die waarheid van God se woord.  Jesus het mos vir ons gesê dat die wêreld ons sal haat, dat 'n dienskneg nie groter is as sy Heer nie. 

So dit is my vraag aan my broeders en susters in Christus, is jy 'n vriend van God of  'n vyand van God?  Het die wêreld jou lief of haat die wêreld jou?  

Dit is donker tye waarin ons leef mense.  Ons as Christene moet waaksaam wees.  Die Satan is listig en loop soekend soos 'n leeu wie hy kan verslind.  Bly in gebed oor alles.  Bid vir ons land en al die mense en ook vir die goddelose leiers van ons land.  Hulle het dit nodig.  Ons wil nie dat mense hel toe gaan nie!  Ons het die Here Jesus se liefde vir mense in ons harte, dit is nou as ons die Gees van Christus het, anders behoort ons nie aan Hom nie! 

Dankie dat julle gelees het.  Laat ons dink oor die dinge.  Baie liefde in Christus vir julle van my.♥ Dit is in liefde en oor ek omgee dat ek dié dinge skryf en waarsku.  God seën julle.

'n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry?
Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel.
Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”
~Numeri 11:4-6

In julle huweliksverhouding met God is julle ontrou! Besef julle nie dat vriendskap met die wêreld jou ’n vyand van God maak nie? Hoor wat ek sê: As jy die wêreld tevrede wil stel, het jy klaar as vyand teen God stelling ingeneem.
~Jakobus 4:4 

Daarom: “Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie; dan sal Ek julle ontvang.”
~2 Korinthiërs 6:17 

As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle.
~Johannes 15:19
 
“Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Aangesien hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. Aangesien hulle my boodskap ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.
Hulle sal al daardie dinge aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het nie ken nie.
~Johannes 15:20:21 

Saterdag, April 02, 2016

Christene wat skinder


Christene wat skinder

Ek reken om te skinder is mos nie liefde nie. Definitief nie Jesus liefde nie.
As ons nie eerder mekaar kan opbou en vir mekaar kan bid nie, moet ons eerder ons monde hou voordat ons wys wat ons werklik is...skynheilig.
Want hoe kan jy bid vir mense en in die ander asem gaan praat agter hulle rug?
Dit wys vir my daar is baie wat sê hulle bid vir jou, maar dat hulle dit nie werklik doen nie.
As mens vir ander bid, wil jy nie skinder nie. Hoe kan ons? Dan glo ons mos nie werklik in God nie, want dink ons dan nie daaraan dat Hy sien hoe ons skinder nie? En ons weet hoe God oor skynheiliges (hypocrites) voel. Jesus sê hulle sal nie die hemel sien nie. En ek praat van Christene.
Dit is maklik om die naam van die Here Jesus te bely, maar is Hy in ons harte of is ons harte ver van Hom? Het ons werklik Sy liefde in ons harte vir ons naaste, selfs ons vyande?  As ons selfs ons familie en sogenaamde vriende loop en beskinder, hoe op aarde kan ons ons vyande liefhê?
Watse woorde kom uit ons monde uit? Want dit wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Is ons harte vol van Jesus en Sy woord? Of klink ons maar soos die res van die ongelowige wêreld en doen ons soos hulle doen?
Laat ons selfondersoek doen of ons werklik in die geloof is...elke dag!
Mag God ons Vader ons almal seën en lei in alle waarheid in deur Sy Heilige Gees.💞
Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
Mattheus 24:51 NLV

Donderdag, Maart 24, 2016

Goeie leefstyl en selfdissipline



2 Petrus 1:3-11
gesonde leer en leefstyl
Wow!  My vorige inskrywing op my blog het God my Maandag al na gelei in sy woord, oor gesonde leer en leefstyl en kyk nou hier!...alweer in 2 Petrus 1 oor gesonde leer en leefstyl.
god het julle nuut gemaak
maak dit sigbaar in julle leefstyl
Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word.
Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. 

goeie leefstyl en selfdissipline


’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken. As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God. 
’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet.  Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie.  Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl.
Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.  En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.