Maandag, Januarie 29, 2018

Dra vrug of word Loammi genoem

As kinders van God, as Christene, moet ons vrugte dra wat by ons bekering pas.  Indien ons nie vrug dra nie, sal die Here van die wingerd ons takke afsny en ons sal net goed wees vir die vuur.  Die Here sal simbolies van ons sê dat ons is "Loammi", 'n Hebreeuse woord wat "nie my mense nie" beteken.

Wanneer ons nie vrug dra nie, dan is ons besig om in sonde te leef.  Daar staan geskrywe dat om in sonde te leef, opsetlike sonde, 'n sonde tot die dood toe is.  Ons mag nie eens vir een wat besig is met opsetlike sonde, bid nie.

So laat ons ag slaan op ons Here Jesus se woorde en in Hom bly, en ons sal veel vrug dra en Hy sal van ons sê, hierdie is "Ammi", "die Here s'n".  Halleluyah! :)♥


Saterdag, Januarie 27, 2018

Bemoediging vir jou

Goeie dag kosbare mensies.  God seën julle dag.  Ek was vandag baie geseënd toe ek hierdie Skrifverse lees.  Ek versorg my swakke moeder en kyk wat sê dié vers, dat die Here jou sal genees as jy wat omsien na 'n swakke, self siek raak. 
Hy het juis dit vir my gedoen toe ek tydjie terug griepsimptome begin toon het.  My hele lyf was seer en ek het geweet hier kom die griep en ek het my krag so nodig om na my moeder om te sien.  Griep trek my sommer vir 'n hele week plat en tas my hart aan, wel ek het dit gewoonlik erg.
Toe roep ek uit na God en vra Hy moet my help en die griep wegvat van my en sowaar Hy hét! Die lyfseer het weggegaan en die ander simptome het nie eens kans gehad om pos te vat nie.
God is GETROU aan Sy woord! Julle moet net vra en GLO.😊🕊️
Ek bid vir my moeder, maar God het haar nog nie genees nie, maar ek vra elke dag krag vir haar en krag vir my en Hy is getrou!  Ek bekommer nie oor die dag van môre nie, want môre het genoeg van sy eie probleme en my God is alreeds daar!😊❤️🕊️ Mag julle bemoedig wees deur die verse. Baie liefde in Jesus.❤️🌹


Vrydag, Januarie 26, 2018

Soek die Here

Baie weier om na Christus te kom en om Sy genade en vergifnis te soek, sodat hulle kan lewe.  God se wraak sal oor hulle uitgestort word. Laat ons nie van die wêreld 'n afgod maak nie, want die wêreld kan ons nie beskerm nie. Slegs Jesus kan.
Geseënde dag vir jou in die Here. Hy is met jou, Hy alleen beskerm jou, nie jou wapens nie. Vertrou slegs in die Naam van die Here jou God! #Jesus 

Maandag, Januarie 08, 2018

Wanneer dit Hom behaag

Wow! Kyk hoe praat God in antwoord op gebed.
Ek het vandag gebid oor verskeie dinge en ook gelei gevoel om te bid vir ons regeringsleiers, dat God hulle harte sal verander en hulle tot bekering sal lei, hulle sal red. Dat hulle ons land sal regeer volgens Sy Woord, Sy wil en dat baie in hierdie land na Christus sal draai.
(Baie in ons regering is korrup, in rebellie teenoor God, ons heersers hou van oneerlikheid.)
Die volgende is wat God vir my sê deur Sy woord (Psalm 47:10) en deur 'n kommentaar van John Gill (ek hou baie van sy kommentare op Skrifverse):

Die edeles van die volke het vergader — ’n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!
~Psalm 47:10


Die skilde van die aarde is die heersers van die aarde, en hulle is veronderstel om 'n skild, 'n beskerming vir ons te wees. Die Here stel hulle aan en sit hulle af soos Hy wil, en hulle harte is in Sy hande en Hy kan hulle bekeer wanneer dit Hom behaag en hulle bymekaarmaak in Sy Seun en Sy kerk.
Ons veiligheid en beskerming is van die Here wat Koning is oor die hele aarde.
Christus het alle mag in die hemel en op aarde en word hoog verhef aan die regterhand van God, en engele, owerhede en magte is onderhewig aan Hom.
Ek sal aanhou bid vir ons regeringsleiers, want hulle is in God se hande en Hy is die Pottebakker wat uit dieselfde klomp klei die een 'n voorwerp tot eer en die ander tot oneer maak.
Dankie Here dat U in beheer is en dat U wil op aarde gedoen word net soos in die hemel. Amen.

Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
~Romeine 9:21


Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.
~2 Timotheus 2:20


Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.
~2 Korinthiërs 4:7


sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
~1 Korinthiërs 2:5


in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand;
~2 Korinthiërs 6:7