Wys tans plasings met die etiket moenie bang wees nie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket moenie bang wees nie. Wys alle plasings

Saterdag, April 20, 2024

Staan op! Verhef jou stem!

Facebook verhinder my om by my persoonlike rekening aan te meld en daarom kan ek nie my twee Christelike blaaie wat ek deur daardie persoonlike rekening geskep het, administreer nie. Ek het daardie bladsye jare gelede gemaak en dit het jare geneem om dit te laat groei. FB verhoed my om toegang tot my rekening te kry en dit vir geen rede nie. Hulle het vir my twee e-posse gestuur, dat iemand my wagwoord wou verander. Ek het gedink dit is vals en het dit geïgnoreer en gehaas om twee-faktor-verifikasie te aktiveer. Toe begin my probleme en ek kon nie weer aanmeld nie al het FB my toegelaat om my wagwoord te verander. FB hou aan om vir my 'n pop-up te gooi wat beweer hulle herken nie die toestel waarvandaan ek probeer aanmeld nie. Absoluut belaglik. Ek gebruik altyd my foon en skootrekenaar. Ek het FB 'n e-pos gestuur, maar het niks van hulle gehoor nie.

Ek het soveel trane oor my Facebook-blaai gestort. Ek het daaroor gebid en nou die dag het God my in Sy woord gelei en ek het geweet dit is vir my! Om nie op te hou nie, maar om voort te gaan om my stem te verhef om goeie tyding te bring.

Mag God my sewevoudig seën wat die vyand van my gesteel het. Wie weet, dalk kry God my blaaie terug of dalk het God dit toegelaat omdat Hy iets beters vir my het. God sal sorg.

Moet nooit hierdie platforms vertrou nie. Hulle sal jou kanselleer met die klik van 'n knoppie.

Wanneer die vyand probeer om jou stem stil te maak, staan op! Verhef jou stem! Verhef die naam van JESUS!

🕊🩷🕊🩷🕊🩷🙌🩷🕊🩷🕊🩷🕊

JESAJA 40:9, 11 AFR83‬
⁹ Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!”
¹¹ Soos 'n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.


Staan op God se Volk ~ Klik om liedjie te luister

🕊🩷🕊🩷🕊🩷🙌🩷🕊🩷🕊🩷🕊


Woensdag, Februarie 07, 2018

Moenie bang wees nie

 'Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan. hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar, sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf. Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie.' 
JEREMIA 42:11-12,15-17

 

MOENIE BANG WEES NIE

Die Here wil nie hê dat ons moet bang wees nie.  Vrees nie mense nie!  Vrees die HERE!  Moenie bang wees vir regeringsleiers nie.  Soos God sê in Spreuke 21:1, 'Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.'
Doen die Here se wil, wees gehoorsaam aan Sy woord, en Sy wil sal julle vind in Sy woord.
Wanneer ons vrees en nie op die Here vertrou nie en ons vlug weg van dit wat ons vrees, sal dit wat ons vrees ons volg en ons sal dit nie ontsnap nie!

Laat die vrede van die Here wat alle verstand te bowe gaan in ons harte heers deur ons vaste vertroue op Hom en daar sal nie plek wees vir vrees nie.  Kyk wat staan geskrywe in Jesaja 26:3...

'en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. '
Jesaja 26:3


En ons het nie nou 'n profeet nodig wat vir die Here namens ons vra wat Sy wil is nie, nee, ons het almal dieselfde Gees van God ontvang en ons gaan self in gebed na God en kry Sy antwoord aan ons in Sy woord.  Die Here se skape hoor Sy stem en geloof kom deur die gehoor en die gehoor kom deur die woord van God!  Wil jy God se stem hoor?  Lees Sy woord en moenie net hoorders van Sy woord wees nie, maar gaan doen Sy wil, wees gehoorsaam aan Sy woord en so bly jy in Jesus en sal jy baie vrug dra en God tevrede stel.

(En met my woorde oor 'n profeet, verwerp ek geensins die gawe van profesie wat ons van die Heilige Gees ontvang nie, nee.  God se woord sê in 1 Tessalonisense 5:20-22 ons moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.)
En ek gaan nou spesifiek praat van Angus Buchan en die haat wat mense teen hom praat, die lasterlike dinge.  Daar is absoluut niks verkeerd wanneer hy sê dat die Here op sy hart gelê het om gebedsbyeenkomste te reël nie.
Ervaar jy en ek dan nie ook dat die Here in ons alleentyd met Hom, dinge tot ons hart spreek nie?  Ek wonder baie keer of party Christene die stem van die Here deur Sy woord wat tot hulle harte spreek, maar net ignoreer nie, want hulle ag hulleself nie waardig genoeg om van God te hoor nie.  Ons moet ophou met daardie denke.  Ons as gelowiges is deur God waardig genoeg geag om Sy Seun te stuur om vir ons sondes te kom sterwe.  Ons moet ophou om ons ore uit te leen aan die duiwel se leuens aangaande ons.  Weet wie jy is in Christus.
Wanneer ons glo dat God nie met ons praat nie, dan speel ons in die duiwel se hande.

Ons moet ophou om ander te kritiseer wat sê wat die Here tot hulle harte gespreek het deur Sy woord.  Toets elke woord, bly weg van alles wat sleg is (as dit teen God se woord gaan) en behou die goeie en ons kan nie verkeerd gaan nie.  Om gebedsbyeenkomste te reël is iets goeds!  Vader sê dan juis dat Sy huis (die lewende stene, die Christene, Sy kinders, want ons liggame is Sy tempel) sal 'n huis van gebed wees.

Amen.  God seën julle.  Ek kan nie glo die draai wat ek loop met die woord wat ek vanoggend gelees het nie.  So lei die Here se Gees van Waarheid ons.  Ons moet in Sy woord bly en jy sal verbaas staan hoe Hy deur Sy woord met jou praat.

Ek hoop dié woorde, geinspireer deur die Heilige Gees, (want ek het Hom gevra! :)) is vir julle 'n groot bemoediging.  Gaan in vrede en wandel in die liefde van Jesus.♥

Om mee af te sluit, Psalm 97:10 ter bemoediging.

Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,
Hy red hulle uit die greep van die goddelose.