Donderdag, Maart 29, 2018

Geseënde Paasfees

Geseënde dag vir julle in Jesus se kosbare, Heilige Naam.
Laat ons fokus veral wees op wat Jesus in Sy groot liefde vir ons en die hele wêreld gedoen het. Laat ons vir almal wat nog nie vir Jesus ken nie, vertel van hierdie groot #hoop.
Laat hierdie Goeie Nuus wat soos 'n genesende balsem is, oor die hele aarde versprei.
Geseënde #Paasfees vir jou en jou geliefdes.

#AllesOorJESUS #JESUS #SlegsJESUS #VertelDieWêreld #MoenieTerughouNie #VirKosbareSieleSeOnthalwe #DieKruisWasGenoeg #BloedVanJesus #SonderVergietingVanBloedGeenVergifnisVanSonde #JesusLamVanGod #GeofferVirOnsSondes #Opstandingskrag #JesusHetDoodOorwin #JesusGeeEwigeLewe #VrygemaakVanSonde #NieMeerSlaweVanDieSondeNie #OnsIsDoodVirDieSonde #LeefJouLeweVirGod #LeefHeiligeLewens #SoliDeoGloria #EreAanGodAlleen  ✝️

Maandag, Maart 26, 2018

Dien mekaar

Jesus het gekom om ander te dien, om Sy lewe vir ons te offer. So moet ons ook ons lewens wy aan Hom, deur ander te dien, deur mekaar se laste te dra.  Dit is ware liefde, onbaatsugtige liefde. Alles wat ons vir ander doen, doen ons vir Jesus en eendag in die hemel sal Hy ons daarvoor beloon.
God seën jou.

Maandag, Maart 19, 2018

God van hoop

Goeiedag liewe mense.  Ons Hemelse Vader seën julle in Jesus se heilige Naam.
So 'n tyd terug in die kommentaar op 'n nuusartikel, skryf 'n vrou dat ons geen hoop meer het in die land nie en dat selfs Jesus hoop opgegee het oor Suid-Afrika.
Wat 'n leuen, want die vers op die foto kom toe dadelik na my gedagte.  Waar sal God hoop opgee oor ons land as Hy dan die God van hoop is?!  En Jesus is die fondasie van ons hoop!
Ek kan nie glo Christene praat so sonder hoop, so ongelowig nie.
Laat ons aanhou bid vir ons land vir genesing.  Niks is vir God onmoontlik nie.  God werk met ons geloof.  Laat ons vuriglik bid in geloof.  Sonder geloof is dit onmoontlik om God tevrede te stel.
Ons moet glo dat God ons land sal genees, mense se harte sal genees van al die haat en rassisme en onvergewensgesindheid van beide kante.  Laat ons ook ons deel doen en soos Christus optree en praat teenoor ons naaste.  Die liefde oorwin alles.
Die Here het ons nie vergeet nie en Hy sal ook nooit nie.
Die Here is gretig om ons genadig te wees
en Hy wil Hom oor ons ontferm:
Die Here is 'n God wat reg laat geskied,
en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.
(Jesaja 30:18)
Mag julle 'n vreugdevolle dag hê.
https://youtu.be/z6uSx1oPaNE

Saterdag, Maart 03, 2018

Die Stryd Is Werklik

Die Stryd Is Werklik

Nie Teen Vlees En Bloed Nie

Bose geeste In Die Lug

Mag jou dag geseënd wees in Jesus se lieflike Naam en mag ons Here ons God jou en jou geliefdes bewaar van die bose, want hy loop rond soos 'n brullende leeu, soekend wie hy kan verslind.
Gister op sosiale media is 'n Nigeriër besig om sy voodoo okkultiese dienste te versprei in kommentaar.  Ek berispe hom en bid die bloed van Jesus en God se verterende vuur teen die bose geeste wat hom beet het en ek praat oor die evangelie met hom.  

Die volgende oomblik inbox hy my op FB en sê: "I don't like this.  You worship your God and I worship mine.  Be warned."  

Ek skrik nie vir duiwels nie, ek vrees net ons Heilige God.  Ek het in gebed gegaan en met die Swaard van die Gees (die woord van God) geveg.  Maar ja, so sluip die duiwel oral rond, selfs op die internet, veral op die internet.  Dankie Vader U kinders is op die internet om die leuens van die vyand te weerlê.  

Bly in Jesus en in die woord van God en moenie in opsetlike sondes wees nie, anders het die vyand van jou siel 'n ope deur om jou aan te val.  God seën jou.🤗💞🕊️  #DieStrydIsWerklik


Donderdag, Februarie 22, 2018

Die Strengheid van God

STRENGHEID VAN GOD

 Baie Christene dink net oor die goedheid van God, maar vergeet van die strengheid van God. Laat ons dan ook onthou van Sy strengheid, sodat ons uit Sy goedheid sal lewe, sodat ons nie uitgekap sal word nie.

Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

LUKAS 3:8‭-‬9‭,11


Maandag, Februarie 19, 2018

Is jy dood vir die sonde?

Opsetlike sonde

Opsetlike sonde is die sonde tot die dood toe.  Daar is sonde nie tot die dood toe nie, maar opsetlike sonde is wel tot die dood toe, want Here Jesus het ons vrygemaak van ons sondes.  Die sonde moet nie meer mag hê oor ons nie, want ons is dood vir die sonde.  Christus het gesterf vir die sonde, daarom is ons ook dood vir die sonde, omdat ons een met Christus is.

Hierdie onderwerp is baie ernstig.  Baie Christene is gou om vir die Christene wat waarsku oor sonde, te sê "jy sondig ook'.  Ja, maar ons volhard nie in opsetlike sonde nie.  Daar is 'n groot verskil. Net diegene wat volhard in opsetlike sonde, is dié wat nie wil hê ander Christene moet praat teen sonde nie.  Hulle besef nie hoe hulle woorde wys wat in hulle harte is nie.  Geen Christen moet aanstoot neem as 'n ander Christen praat teen sonde nie.  Ons is dan een met Christus, so hoe dan nou?  Hoekom is ons nie eensgesind oor die sonde nie?  Laat ons onsself ondersoek met die woord van God as ons maatstaf.

Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.
Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie.  
Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 
Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.
Romeine 6:11-14

Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.
Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.
As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?
~Hebreërs 10:26-29

Dinsdag, Februarie 13, 2018

Oë gesluit vir dit wat sleg is?

Ek groet julle in die lieflike Naam van ons Here Jesus Christus.🤗💞  Mag God Sy aangesig vandag oor jou en jou familie en al jou geliefdes laat skyn.

Ons God is 'n ewige gloed! 'n Verterende vuur! Laat ons in heiligheid voor Hom lewe, laat ons daarna streef om nie in doelbewuste sonde te lewe nie. Kyk na daardie laaste deel van die vers, "wat sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie".
Dit laat my dink aan die gemors wat mense op TV en in rolprente na kyk en die gemors wat hulle hulle oë op lê in vieslike tydskrifte.

Laat ons as geheiligdes van God waak oor wat ons oë aanskou.  Laat ons wegbly van bose dinge.  Satan gebruik elke kans om ons te versoek met die begeerlikhede van die vlees.  Hy doen dit deur die dinge waarna ons kyk en waarna ons luister.  Laat ons dan versigtig wees soos slange en slegs die wil van ons Vader in die hemel doen.  Alles tot eer van Sy Heilige Naam.

Hoe is dit tot eer van God se Heilige Naam wanneer Sy bloedgekoopte kinders volhard in doelbewuste sonde?  Dit bewys dat ons nie wandel in die krag van die Heilige Gees nie, maar dat ons nog steeds beheer word deur ons vlees.

Ja ons as Christene sondig wel, maar daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie en daar is 'n sonde wat tot die dood is, doelbewuste sonde.  Doelbewuste sonde is so ernstig dat ons volgens die skrif nie eens vir so iemand moet bid nie!  Iemand wat in doelbewuste sonde is, dryf al hoe verder en verder van Christus af weg en sal op die ou end wegval van Christus, want hulle volhard met doelbewuste sonde en hulle weier om dit te laat staan.  Hulle gewete word geskroei.

Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.
 ~1 John 3:9