God stuur toe vir Elia met 'n boodskap na die koning om hom van die droogte te vertel. Elia was in gevaar van vervolging en daarom stuur God hom toe na 'n spruit om te gaan wegkruip. Daar het God Elia van water voorsien en Hy het hom van kos voorsien wat deur 'n kraai na hom gebring is! Mettertyd het die spruit opgedroog en God stuur Elia toe na 'n ander plek waar Hy 'n weduwee aangesê het om vir Elia te sorg.
Daar gekom vra Elia vir haar water en nes sy wou gaan water haal vir hom, vra hy vir haar 'n stukkie brood. Sy vertel hom toe dat sy net genoeg meel en olie het om vir haar en haar seun iets te ete te maak en dan wag hulle maar om te sterf (as gevolg van die hongersnood).
Elia sê toe vir haar sy moenie vrees nie, sy moet vir hom 'n broodjie bak en dan vir haar en haar seun, want God sê die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat Hy dit weer laat reën. Alles het net so gebeur soos die Here gesê het.
Toe raak die weduwee se seuntjie baie ernstig siek en hy het gesterf. Elia smeek toe die Here om die kind op te wek en die Here het sy gebed gehoor en die kindjie weer laat lewe.
Kyk nou net hoe sorg ons Here vir ons, ons Jehova Jireh, die Here ons Voorsiener. Ons sien Elia se gehoorsaamheid aan God, sy vertroue in God. Daar was 'n droogte! God het hom van water voorsien. Daar was hongersnood! God het hom op 'n wonderwerkende wyse van kos voorsien. Daar was dood, God het lewe gegee! God is so wonderbaar, so liefdevol en goed vir Sy getroue kinders.
Laat ons nooit vergeet om getrou te bly aan God en op Hom alleen te vertrou wat ookal ons situasie is nie. God het altyd 'n plan en sal altyd in ons behoeftes voorsien. Kyk net hoe klee Hy die blomme in die veld. Kyk hoe sorg Hy vir die voëls. Jy is baie meer werd as hulle!
6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.
14 So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”
21 Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”
22 Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.
•~1 Konings 17:6,14,21-22