Wys tans plasings met die etiket droogte. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket droogte. Wys alle plasings

Dinsdag, Februarie 06, 2018

Hemel soos brons

Sondag 24 September 2017 het ek 'n droom gehad en in die droom is die hemel mooi sagte blou kleur soos altyd, maar ek let op die 'tekstuur' van die hemel is hard soos rots.
Nou die dag toe ek weer my nota oor die droom sit en lees, kom dit na my dat daar iewers in die Bybel geskrywe staan van die hemel so hard soos klip of so iets. Ek gaan soek toe, en sowaar dit is so. Dit is simbolies van droogte.
En tot nou die dag het ek geen idee gehad wat dit beteken het nie. Ek glo die Heilige Gees het dit na my gedagtes gebring. Lees hier asb.

Die hemel bo jou sal brons word en die aarde onder jou yster.
Deuteronomium 28:23

Ek sal alles waarop julle staatmaak, laat verdwyn. Daar sal geen druppel reën val nie: dit sal wees asof die hemel van yster en die grond van brons is.
Levitikus 26:19 AFR83

Vrydag, Februarie 02, 2018

Bely sondes teenoor mekaar

Vrede van ons Vader en Here Jesus vir julle.  Ons moet ons sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid, sodat ons genees kan word.  Die Here ons God is ons skild en bewaar ons van alle gevare. Ken Hom in al jou planne, roep uit na Hom, loof Hom, prys Hom, want Hy alleen is waardig en die enigste Een wat ons uit hierdie droogte kan red.
Laat ons in heiligheid wandel. Wees heilig, want ons God is heilg. Ons is nie gemaak om te lyk, te praat en klink soos die wêreld nie. Ons moet uitstaan van die wêreld. Ons moet wees soos 'n lig op die heuwel.
Die wêreld moet getrek word na die lig wat in ons skyn, in ons lewenswandel, in ons dade, in ons woorde.
Hoe kan dit gebeur wanneer daar geen onderskeid is tussen die Here se kerk en die wêreld nie? 
O Here vergewe ons! Bring U afgedwaalde skape terug met U stok en U staf op die smal weg sodat ons kan ingaan by die nou ingang, want daar is min wat daarop wandel en min wat daar ingaan.
 

Vrydag, Oktober 24, 2014

God sal voorsien

Daar was 'n droogte en 'n hongersnood in Israel.  Dit was straf vir koning Agab se vreeslike sondes teen God.  Hy het meer gesondig as al sy voorgangers.

God stuur toe vir Elia met 'n boodskap na die koning om hom van die droogte te vertel.  Elia was in gevaar van vervolging en daarom stuur God hom toe na 'n spruit om te gaan wegkruip.  Daar het God Elia van water voorsien en Hy het hom van kos voorsien wat deur 'n kraai na hom gebring is!  Mettertyd het die spruit opgedroog en God stuur Elia toe na 'n ander plek waar Hy 'n weduwee aangesê het om vir Elia te sorg.

Daar gekom vra Elia vir haar water en nes sy wou gaan water haal vir hom, vra hy vir haar 'n stukkie brood.  Sy vertel hom toe dat sy net genoeg meel en olie het om vir haar en haar seun iets te ete te maak en dan wag hulle maar om te sterf (as gevolg van die hongersnood).
Elia sê toe vir haar sy moenie vrees nie, sy moet vir hom 'n broodjie bak en dan vir haar en haar seun, want God sê die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat Hy dit weer laat reën.  Alles het net so gebeur soos die Here gesê het.

Toe raak die weduwee se seuntjie baie ernstig siek en hy het gesterf.  Elia smeek toe die Here om die kind op te wek en die Here het sy gebed gehoor en die kindjie weer laat lewe.

Kyk nou net hoe sorg ons Here vir ons, ons Jehova Jireh, die Here ons Voorsiener.  Ons sien Elia se gehoorsaamheid aan God, sy vertroue in God.  Daar was 'n droogte!  God het hom van water voorsien.  Daar was hongersnood!  God het hom op 'n wonderwerkende wyse van kos voorsien.  Daar was dood, God het lewe gegee!  God is so wonderbaar, so liefdevol en goed vir Sy getroue kinders.

Laat ons nooit vergeet om getrou te bly aan God en op Hom alleen te vertrou wat ookal ons situasie is nie.  God het altyd 'n plan en sal altyd in ons behoeftes voorsien.  Kyk net hoe klee Hy die blomme in die veld.  Kyk hoe sorg Hy vir die voëls.  Jy is baie meer werd as hulle!

6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

14 So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

21 Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”
22 Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.
 •~1 Konings 17:6,14,21-22