Wys tans plasings met die etiket vertroue. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket vertroue. Wys alle plasings

Maandag, Oktober 27, 2014

God se beskerming

Ek wil graag met julle deel hoe God in my lewe werk.

Die duiwel se gunsteling taktiek met my is, om my aan te val met vrees, want hy weet baie goed as ons vrees, dan bekommer ons en ons twyfel of God ons regtig sal help, sal beskerm en dit liewe mense is ongeloof en ons weet dat sonder geloof kan ons God nie tevrede stel nie.
Maar met die Here se hulp het ek nou al geleer om te onderskei wanneer die duiwel besig is om my aan te val.  Ek vrees nie meer nie.  God is getrou en Hy gee vir my Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, omdat ek daaroor bid.  God is so dierbaar, so liefdevol, so goed.

Waar ons bly is baie inbrake.  Twee keer is daar al by ons garage ingebreek en daar was nog 'n paar pogings, maar hulle is onderbreek.  Selfs 25 jaar terug, die aand voor ons moes intrek, toe probeer 'n ou hier inbreek!  Maar God is baie goed vir ons.

'n Paar aande terug was my man by die werk besig met nagskof en ek was by die huis alleen.  'n Skelm kom sluip toe hier rond en laat die sekuriteitslig aan die kant van ons huis aangaan.

Die rede hoekom ek dit vertel, is om vir julle te wys hoe die duiwel te werk gaan.  Ek en my man gaan binnekort vir 2 dae weg en ek was baie bekommerd om die huis so alleen te los, veral met al die inbrake.  Maar ek het besef God is nie tevrede met my nie.  Ek het al my vrese en bekommernisse vir Hom gegee in gebed!  Ek plaas al my vertroue in die Here Jesus Christus!  God is in beheer!  Ek wil nie die Heilige Gees bedroef maak deur bekommerd en bevrees te wees nie.  Bekommernis is 'n teken van ongeloof en ons weet sonder geloof kan ons nie vir God tevrede stel nie.

Die duiwel sal enigiets probeer om jou geloof te ondermyn, om jou te laat vrees, bekommer, twyfel, want hy haat vir jou en hy haat die feit dat ek en jy op God vertrou.  So ek is hier om vir jou te vertel moenie bekommer oor enigiets nie!  Vertrou op Jesus!  Is enigiets onmoontlik vir God?  Niks is onmoontlik vir ons God nie!  Hy het ons lief en Hy sorg vir die regverdiges.  Die Bybel sê die regverdiges sal deur baie rampe getref word, maar die Here red ons uit hulle almal!

Die beste van alles is hoe die Here my lei in Sy woord.  Die volgende oggend lei Hy my na Jesaja 52:12.

Julle hoef nie haastig pad te gee nie, julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:  Die Here gaan voor julle uit, die God van Israel kom agter julle aan.

Daardie aand bevestig die Here Sy woord deur 'n suster in Christus wat die profetiese gawe het, maar wat niks van my weet nie en ek sien haar FB status in Engels wat sê:  (vertaal deur my)

Ek hoor die Here sê, Ek het jou vyande onderskep, want jou vyande is ook My vyande.  Dit is alles nou verby.  Die pad is nou duidelik.  Niks meer oor jou skouers loer nie, want jou Here beskerm jou voorkant, jou agterkant en al jou kante.  Loop nou op die pad waar bandiete, diewe, rowers en moordenaars verbied is om jou, my gesalfdes, in hierdie seisoen aan te raak.  Rus My dienaars, want die Here beskerm jou, want jou vyande is ook My vyande.

Sien jy hoe God praat?  Is Hy nie kosbaar, liefdevol en beskermend teenoor die wat aan Hom behoort nie?  Hy het 'n duur prys vir ons betaal!...ons gekoop met Sy Bloed!  Ons is Syne!
Halleluja!  Prys die Here o my siel!  Ek het U so baie lief Here Jesus!  Geseënd is U Heilige Naam Here! † ♥


Vrydag, Oktober 24, 2014

God sal voorsien

Daar was 'n droogte en 'n hongersnood in Israel.  Dit was straf vir koning Agab se vreeslike sondes teen God.  Hy het meer gesondig as al sy voorgangers.

God stuur toe vir Elia met 'n boodskap na die koning om hom van die droogte te vertel.  Elia was in gevaar van vervolging en daarom stuur God hom toe na 'n spruit om te gaan wegkruip.  Daar het God Elia van water voorsien en Hy het hom van kos voorsien wat deur 'n kraai na hom gebring is!  Mettertyd het die spruit opgedroog en God stuur Elia toe na 'n ander plek waar Hy 'n weduwee aangesê het om vir Elia te sorg.

Daar gekom vra Elia vir haar water en nes sy wou gaan water haal vir hom, vra hy vir haar 'n stukkie brood.  Sy vertel hom toe dat sy net genoeg meel en olie het om vir haar en haar seun iets te ete te maak en dan wag hulle maar om te sterf (as gevolg van die hongersnood).
Elia sê toe vir haar sy moenie vrees nie, sy moet vir hom 'n broodjie bak en dan vir haar en haar seun, want God sê die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat Hy dit weer laat reën.  Alles het net so gebeur soos die Here gesê het.

Toe raak die weduwee se seuntjie baie ernstig siek en hy het gesterf.  Elia smeek toe die Here om die kind op te wek en die Here het sy gebed gehoor en die kindjie weer laat lewe.

Kyk nou net hoe sorg ons Here vir ons, ons Jehova Jireh, die Here ons Voorsiener.  Ons sien Elia se gehoorsaamheid aan God, sy vertroue in God.  Daar was 'n droogte!  God het hom van water voorsien.  Daar was hongersnood!  God het hom op 'n wonderwerkende wyse van kos voorsien.  Daar was dood, God het lewe gegee!  God is so wonderbaar, so liefdevol en goed vir Sy getroue kinders.

Laat ons nooit vergeet om getrou te bly aan God en op Hom alleen te vertrou wat ookal ons situasie is nie.  God het altyd 'n plan en sal altyd in ons behoeftes voorsien.  Kyk net hoe klee Hy die blomme in die veld.  Kyk hoe sorg Hy vir die voëls.  Jy is baie meer werd as hulle!

6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

14 So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

21 Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”
22 Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.
 •~1 Konings 17:6,14,21-22

Saterdag, Oktober 18, 2014

Storms in jou lewe

God kan 'n storm in jou lewe bring om jou geloof te toets.  Jy mag 'n regverdige lewe lei en God dien, maar dit beteken nie dat daar nooit moeilikheid oor jou pad sal kom nie.
Ons moet deur die vuur gelouter word, sodat die egtheid van ons geloof, wat meer waardevol is as goud, getoets kan word, sodat wanneer Jesus weer kom, dit lof, heerlikheid en eer waardig mag wees.
Sodat ons Hom kan hoor sê "mooi so goeie en getroue dienaar".  Dat ons konstant en standvastig in ons geloof gevind mag word.

Al wat jy hoef te doen is om te vertrou op Jesus, op Hom alleen.  Roep Hom aan in jou tyd van benoudheid!  Hy sal saam met jou deur die storm gaan en Hy sal die storm kalmeer en Hy sal jou uit die storm uit bring.  Loof Hom tydens die storm, wees lief vir Hom!  Laat Jesus jou sterk toring wees na wie jy hardloop vir beskerming.

God sê dat die regverdiges baie probleme sal hê, maar Hy sal ons uit al ons probleme red.  Is dit nie gerusstellend om te weet dat ons nie ons storms alleen tegemoet hoef te gaan nie?  God gaan saam met ons daardeur.  Vertrou op Hom, Hy is die Here jou God.  Die Here beplan vir ons voorspoed, nie teëspoed nie.  Hy wil vir ons 'n toekoms gee, 'n verwagting.

Op sy bevel het 'n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag.
Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei.
Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar.
~Psalm 107:25,28-29