Dinsdag, Augustus 14, 2018

Moenie sondig nie

Goeie dag vir julle kosbare mense.♥️
Mag God ons Vader jou genadig wees en mag Hy jou die begeertes van jou hart gee soos jy jou in Hom verheug. In Jesus se Naam. Dankie Here.
Ons moenie sondig nie. Ons word gesê in God se woord om nie te sondig nie. Ek weet ons as Christene maak foute en daarom sê God se woord ook dat indien ons sondig, het ons vir Jesus as Voorspraak by Vader.
Dit beteken nie ons kan nou lekker voortploeter in sonde nie, want daar is 'n sonde tot die dood toe en dit is opsetlike sonde.(1 Joh. 5:16-17)
Wanneer ons in opsetlike sonde is, wandel ons in die duisternis. Dan lieg ons dat ons die Here ken.
En kyk hoe kan ons keer dat ons teen die Here sondig... ons bêre God se woord in ons harte. :) God se woord leer my wat ek moet en nie moet doen nie en hoe ek moet leef.  Dit sê vir my wat Jesus ons beveel om te doen. Dit waarsku my.
Ek verstaan hoekom die duiwel nie wil hê ons moet Bybel lees nie, want dan groei ons nie geestelik nie.
Toe ek bekeerd geraak het, het God 'n honger vir Sy woord in my hart gesit en ek glo Hy doen dit met elkeen van ons, maar ons raak laks in Sy woord wanneer die wêreld ons terugroep in al sy verleidinge en ons terugval in sonde. Dan hou mense op Bybel lees, want altyd sal die woord wat 'n tweesnydende swaard is, diep tot in ons harte sny en ons waarsku oor ons sonde waarin ons is, en baie van ons wil dit nie hoor nie.
Dank aan ons God vir Sy grote liefde en genade en vir Sy woord wat vir ewig bly. Vir ewig staan God se woord vas in die hemele.

Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
PSALMS 119:11
As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.
I JOHANNES 1:6
My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.
I JOHANNES 2:1

Veg die stryd deur die Gees

Dit mag lyk of ons omsingel is deur die vyand, maar die Engel van die Here trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. (PSALM 34:8) Dit is hoe ons die stryd veg, nie deur krag of deur geweld nie, maar deur die Here se Gees, sê die Here van die leërskare. (SAGARÍA 4:6)

Woensdag, April 11, 2018

Wie Christus verlaat, gaan te gronde

Geseënde dag vir julle dierbare mense.🤗💞

Solank as wat ons volhard in die geloof, die wil van ons Vader in die hemel doen, in Christus bly, is God in staat om Sy dienaars te help om staande te bly in die geloof!

Deesdae sien ek so baie ongelowiges wat sê dat hulle voorheen "Christene was".
Kyk wat sê die woord van God van hulle wat die Here verlaat! Hulle sal te gronde gaan! Hulle sal verteer word.

Dit herinner my aan ons God wie 'n verterende vuur is!🔥

Dit is onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring, want hulle kruisig immers weer die Seun van God en maak Hom openlik tot 'n bespotting.😢

Hulle leef nie meer in geloof nie, hulle lewe nou in opsetlike sonde en daar is nou geen offer meer wat hulle sondes kan wegneem nie, slegs 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.
Soos geskrywe in Hebreërs 6 & 10.

Ere aan God alleen, die regverdiges van die hemelse Sion wie vertrou in Jesus Christus, dié wat hulle bekeer, sal deur die oordeel vrygemaak word deur 'n regverdige beslissing!

Staan sterk soldate van die geloof, soos julle stry vir die geloof onder beproewinge, selfs tot die dood toe, om die wedstryd te voltooi, om die hemelse prys te ontvang, die kroon van die ewige lewe!✝️💞🕊️


Maandag, April 09, 2018

Leef heilig, Jesus kom weer

Goeie dag dierbare mense. God ons Hemelse Vader seën julle vandag in alles wat julle doen. Mag alles wat ons doen en praat en dink vir Hom aanneemlik wees.
Laat ons gedagtes gerig wees op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet ons ons gedagtes rig.
Laat ons heilig lewe, want ons Here ons God kom weer terug en Hy kom terug vir 'n bruid sonder vlek of rimpel, heilig en onberispelik.
Bly weg van alles wat sleg is.
Mag God, wat vrede gee, ons volkome aan Hom toegewyd maak en ons geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat ons onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!
Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou! Halleluyah! Dankie Vader!

1 TESSALONISENSE 5:23‭-‬24 AFR83
FILIPPENSE 4:8 AFR83

☆«´¯`•.¸¸.° JESUS °.¸¸.•´¯`»☆

Donderdag, Maart 29, 2018

Geseënde Paasfees

Geseënde dag vir julle in Jesus se kosbare, Heilige Naam.
Laat ons fokus veral wees op wat Jesus in Sy groot liefde vir ons en die hele wêreld gedoen het. Laat ons vir almal wat nog nie vir Jesus ken nie, vertel van hierdie groot #hoop.
Laat hierdie Goeie Nuus wat soos 'n genesende balsem is, oor die hele aarde versprei.
Geseënde #Paasfees vir jou en jou geliefdes.

#AllesOorJESUS #JESUS #SlegsJESUS #VertelDieWêreld #MoenieTerughouNie #VirKosbareSieleSeOnthalwe #DieKruisWasGenoeg #BloedVanJesus #SonderVergietingVanBloedGeenVergifnisVanSonde #JesusLamVanGod #GeofferVirOnsSondes #Opstandingskrag #JesusHetDoodOorwin #JesusGeeEwigeLewe #VrygemaakVanSonde #NieMeerSlaweVanDieSondeNie #OnsIsDoodVirDieSonde #LeefJouLeweVirGod #LeefHeiligeLewens #SoliDeoGloria #EreAanGodAlleen  ✝️

Maandag, Maart 26, 2018

Dien mekaar

Jesus het gekom om ander te dien, om Sy lewe vir ons te offer. So moet ons ook ons lewens wy aan Hom, deur ander te dien, deur mekaar se laste te dra.  Dit is ware liefde, onbaatsugtige liefde. Alles wat ons vir ander doen, doen ons vir Jesus en eendag in die hemel sal Hy ons daarvoor beloon.
God seën jou.

Maandag, Maart 19, 2018

God van hoop

Goeiedag liewe mense.  Ons Hemelse Vader seën julle in Jesus se heilige Naam.
So 'n tyd terug in die kommentaar op 'n nuusartikel, skryf 'n vrou dat ons geen hoop meer het in die land nie en dat selfs Jesus hoop opgegee het oor Suid-Afrika.
Wat 'n leuen, want die vers op die foto kom toe dadelik na my gedagte.  Waar sal God hoop opgee oor ons land as Hy dan die God van hoop is?!  En Jesus is die fondasie van ons hoop!
Ek kan nie glo Christene praat so sonder hoop, so ongelowig nie.
Laat ons aanhou bid vir ons land vir genesing.  Niks is vir God onmoontlik nie.  God werk met ons geloof.  Laat ons vuriglik bid in geloof.  Sonder geloof is dit onmoontlik om God tevrede te stel.
Ons moet glo dat God ons land sal genees, mense se harte sal genees van al die haat en rassisme en onvergewensgesindheid van beide kante.  Laat ons ook ons deel doen en soos Christus optree en praat teenoor ons naaste.  Die liefde oorwin alles.
Die Here het ons nie vergeet nie en Hy sal ook nooit nie.
Die Here is gretig om ons genadig te wees
en Hy wil Hom oor ons ontferm:
Die Here is 'n God wat reg laat geskied,
en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.
(Jesaja 30:18)
Mag julle 'n vreugdevolle dag hê.
https://youtu.be/z6uSx1oPaNE