Saterdag, April 02, 2016

Christene wat skinder


Christene wat skinder

Ek reken om te skinder is mos nie liefde nie. Definitief nie Jesus liefde nie.
As ons nie eerder mekaar kan opbou en vir mekaar kan bid nie, moet ons eerder ons monde hou voordat ons wys wat ons werklik is...skynheilig.
Want hoe kan jy bid vir mense en in die ander asem gaan praat agter hulle rug?
Dit wys vir my daar is baie wat sê hulle bid vir jou, maar dat hulle dit nie werklik doen nie.
As mens vir ander bid, wil jy nie skinder nie. Hoe kan ons? Dan glo ons mos nie werklik in God nie, want dink ons dan nie daaraan dat Hy sien hoe ons skinder nie? En ons weet hoe God oor skynheiliges (hypocrites) voel. Jesus sê hulle sal nie die hemel sien nie. En ek praat van Christene.
Dit is maklik om die naam van die Here Jesus te bely, maar is Hy in ons harte of is ons harte ver van Hom? Het ons werklik Sy liefde in ons harte vir ons naaste, selfs ons vyande?  As ons selfs ons familie en sogenaamde vriende loop en beskinder, hoe op aarde kan ons ons vyande liefhê?
Watse woorde kom uit ons monde uit? Want dit wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Is ons harte vol van Jesus en Sy woord? Of klink ons maar soos die res van die ongelowige wêreld en doen ons soos hulle doen?
Laat ons selfondersoek doen of ons werklik in die geloof is...elke dag!
Mag God ons Vader ons almal seën en lei in alle waarheid in deur Sy Heilige Gees.💞
Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.
Mattheus 24:51 NLV

Donderdag, Maart 24, 2016

Goeie leefstyl en selfdissipline



2 Petrus 1:3-11
gesonde leer en leefstyl
Wow!  My vorige inskrywing op my blog het God my Maandag al na gelei in sy woord, oor gesonde leer en leefstyl en kyk nou hier!...alweer in 2 Petrus 1 oor gesonde leer en leefstyl.
god het julle nuut gemaak
maak dit sigbaar in julle leefstyl
Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang! Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word.
Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. 

goeie leefstyl en selfdissipline


’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken. As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God. 
’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet.  Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie.  Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl.
Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.  En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Gesonde leer en leefstyl


Titus 2
gesonde leer en n leefstyl wat daarby pas
Ons moet die soort leefstyl bevorder wat die gesonde leer weerspieël.
Ons moet selfbeheersing uitoefen, ons moet respek verdien en verstandig lewe.  Ons moet ‘n gesonde geloof hê en vervul wees met liefde en geduld.
Leef soos dit iemand betaam wat aan die Here toegewy is.
Moenie rondloop en skinder nie en ook nie aan wyn verslaaf wees nie.
Leer goeie dinge vir ander.
Bejaarde vroue moet jong vroue leer om hulle mans en kinders lief te hê en om met selfbeheersing en rein te leef, om goeie tuisteskeppers te wees wat onderdanig is aan hulle eie mans.  Dan sal die boodskap van God nie belaster word nie.
Die jonger mans moet aangemoedig word om met selfbeheersing te lewe in alles.  Stel ‘n goeie voorbeeld, handhaaf suiwerheid in die leer, met gesonde en onaanvegbare prediking.  Dan sal die teenstander beskaamd staan omdat  hulle dan niks slegs teen ons te sê het nie.
Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring het inderdaad vir almal sigbaar geword.  Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef.
Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ‘n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word.  Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons Sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.
Ooor hierdie dinge moet jy praat.    Met gesag moet jy ook bemoedig en teregwys.
Moenie toelaat dat iemand jou geringskat nie.

Sondag, Maart 20, 2016

Lofprysing en aanbidding bring oorwinning

2 Kronieke 20

Ek groet julle in die wonderlike Naam van Jesus.  Mag God ons Vader en Jesus Christus ons Here julle genade en vrede gee.
 
Wat 'n bemoediging het ek gekry toe ek 2 Kronieke 20 lees.  Die volgende is wat ek gekry het uit hierdie hoofstuk.  Ek maak dit myne!  Doen jy ook so, want God se liefde, seëning en oorwinning is vir ons almal.  Mag God jou seën soos jy hier lees.

God is die God wat in die hemel is.  God is die Heerser oor al die koninkryke  op die aarde.  God is kragtig en magtig.  Niemand kan teen God staande bly nie.

As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons tot God roep uit ons ellende en God sal ons hoor en ons verlos.
(Kyk nou net daar!  Ons gaan tans deur 'n droogte in ons pragtige land Suid-Afrika en in ons ellende roep ons uit na God in gebed en Hy stuur die reën!  Halleluja!)
Daar staan ook geskrywe in 2 Kronieke 7:14 
Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak.
Wie is die mense wat God se Naam dra?  Ons!  Christene!  Ek weet die woord verwys daar na die Israeliete, maar dieselfde geld ook vir ons!  Want ja, baie Christene volhard en leef in sonde en God wil hê ons moet ons rug draai op die sondeEk glo met my hele hart die droogte is straf van God op hierdie goddelose nasie wat hulle rug op Hom keer.  Jesus roep mense tot bekering.  Op ons knieë is waar ons moet wees en ons moet bekeer van ons slegte weë en God sal ons land genees.

Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.

Dit is wat die Here vir julle sê:  Moenie bang wees nie!  Moenie moedeloos wees nie, want die geveg is nie julle s'n nie, maar God s'n.

Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie.  Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here.  Hy is met julle.  Moenie bang of moedeloos wees nie.  Die Here is met julle!
(Die Here bring na my herinnering ons posisie in Christus) :
Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.
So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.
Efesiërs 2:6-7 
Ook herinner dit my aan die wapentoerusting van God wat ons aantrek in Efesiërs 6:13-18. 
Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.
Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.
Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete. Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.
Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.
Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Glo in die Here julle God en julle sal vasstaan.  Sing tot eer van die Here.  
Prys Hom vir sy heerlike heiligheid:
Loof die Here want sy troue liefde duur vir altyd.

Wanneer ons sing en prys wanneer ons in die geveg is, is die vyand verslaan.
Ons word geseën met die vyand se rykdom.  Ons vat wat syne is!  Ek neem dit geestelik op, maar soos hier in dié hoofstuk is dit letterlik, so vir ons kan dit oorspoel na die natuurlike!
Spreuke 6:31 sê vir ons die dief moet sewe maal meer teruggee wat hy gesteel het.  Satan is 'n dief!  Lukas 10:10 staan geskrywe dat die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.  Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê, ja sodat ons dit oorvloedig kan hê!  En dit is die ewige lewe waarvan daar gepraat word.  Hoeveel het Satan nie al van ons gesteel nie en ek praat nie nou oor materiële dinge nie, maar dink aan gebroke huwelike, onmin in families, haat in ons harte, onvergewensgesindheid, siekte.  Hy moet sewevoudig vir ons teruggee wat hy van ons gesteel het! 
Ons seëning kan ook wees in die materiële.  Nie dat ons almal soos die "voorspoedspredikers" in weelde sal leef nie, nee, maar dat ons genoeg sal hê om van te leef.

Die volgende skryf ek ook uit 'n geestelike oogpunt.  Ons sal in die Vallei van Seëninge staan en die Here seën en prys.

Ons sal vrede hê omdat God vir ons rus aan alle kante sal gee.

Dan is daar aan die einde vir ons 'n waarskuwing, 'n les om te leer.  Moenie 'n verdrag met 'n goddelose man sluit nie.  Die Here sal jou werk vernietig!

Kom ons bid:

God ons Hemelse Vader, ons dank U vir U woord wat ons so baie bemoedig en ook leer om waaksaam te wees.  Dankie vir U liefde vir ons Abba, dat U deur Jesus Christus vir ons die lewe in oorvloed gee.  Dankie vir die outoriteit wat ons het in Jesus Christus.  U het die vyand oorwin en ons 'n sitplek in die Hemel gegee saam met Jesus Christus.  Dankie my God vir U ontsettende groot genade en liefde wat U aan ons bewys deur Jesus.  Geloofd is U Heilige Naam God.
In Jesus se Heilige Naam bid ons.
Amen.