15 Augustus 2018

Die Gees van God is op jou

Goeie dag en mag God julle in alle opsigte vandag seën. Staan sterk, bid, druk deur as jy sukkel om op te hou met 'n verslawende gewoonte. Die Here is jou krag!♥️ Vra Hom. Jy kan dit doen. Die begeerte in jou hart om op te hou moet opreg wees. Deur Sy Gees sal die Here dit doen in jou lewe. Hy hou jou vas met Sy reddende regterhand. Hy maak daai deur toe in jou lewe en deure wat Hy toemaak kan niemand weer oopmaak nie.
Iemand het vir gebed gevra, want hulle wil ophou rook.  Ek gaan haar vra of ek haar naam hier kan opsit vir gebed. Dan kan ons haar in ons gebede opdra vir verlossing van die rook gewoonte.
Ek het ook in my lewe gesukkel met 'n verslawing. Ek was te lief vir my wyn. Ek het gesukkel om op te hou. Ek het die Here gevra om my te help, want ek kon nie in my eie krag nie.
Toe raak ek siek van erge bloedverlies en ek word deur die siekte geforseer om op te hou en ek roep uit na die Here om my asb. gesond te maak, dat ek nooit weer alkohol oor my lippe sal laat kom nie as Hy my genees.
Ek het 6 pinte bloed gekry, dokter het gesê ek kon hartversaking gehad het as ek langer gevat het om 'n dokter te sien.
Hy het ook gesê dat my hart 'n knou weg het van die erge bloedverlies wat my hart verskriklik vinnig laat klop het.  Ek het lank gevat om dokter toe te gaan, want ek het gedink dit is as gevolg van die wyn drinkery en ek was skaam daaroor. Kan mens nou so onnosel wees!
Na die eerste pint bloed begin ek al sterker voel, waarlik lewe is in die bloed! ("want die lewe van enige dier is in sy bloed. Ek het vir julle die bloed gegee om daarmee versoening te doen vir julle sondes. Bloed verteenwoordig lewe en dit bring versoening."~LEVITIKUS 17:11 En nou het ons die ewige lewe deur Jesus se bloed wat vir ons versoening met God gebring het deur die Nuwe Verbond in Sý bloed!)

Na 5 dae en 6 pinte bloed stap ek uit daai hospitaal en nie een oomblik het ek ooit 'n begeerte na wyn gehad nie, nog nooit weer nie.

Dit is nou al amper 9 jaar dat ek opgehou het.
Deur siekte het die Here my verlos van die wyn.
Alle eer aan God, want ek kon nie uit my eie nie.  En eers in 2011, omtrent 2 jr later, het ek werklik bekeerd geraak, want die Here het aan my hart gewerk om te bekeer van ander dinge en my sondes te bely wat ek nog nooit gedoen het nie.
Dinge het toe onmiddelik begin verander in my lewe, my musiek smaak en baie ander dingetjies en die Here het nuwe begeertes in my hart gesit en daarom weet ek ek was in 2011 eers werklik bekeerd, want voor dit het ek vir jare gebedjies gedoen dat ek glo in Jesus, maar ek het niks bely en bekeer van my sondes nie, daar was nooit verandering in my nie (bv. die wyn). So ek weet ek was nooit voor dit werklik weergebore nie al het ek myself altyd 'n Christen genoem.
Mense, omdat Ma en Pa Christene is, maak nie vir jou weergebore nie. Om kerk toe te gaan omdat Ma jou laat gaan, maak jou nie weergebore nie. Omdat jou Pa dalk 'n prediker is, maak jou nie weergebore nie.
Dit is 'n persoonlike gebeurtenis tussen jou en God. Ja jy gaan die verlossingsboodskap gepreek hoor, maar dit doen dalk niks aan jou nie, jy gaan maar net aan soos altyd in jou sondige leefstyl.  Ek het!
Hopelik word daai saadjie geplant en later van jare kom gee iemand daai saadjie water en die Here bring die oes in, in Sy tyd, op die regte tyd en jy sal wéét dat jy wéét jy is weergebore. Mense wat jou ken sal oplet jy is anders.

Prys die Here vir Sy genade. Hy is darem baie geduldig met ons tot daai dag wat ons uiteindelik weergebore word.
Goeiste mense, ek het nie bedoel om die boodskap te skryf nie, ek wou oor die vers in die prentjie skryf, maar die Here het my oor iets heel anders laat skryf!☺️ Daar is seker iemand wat nodig het om dit te hoor.♥️

As ek nou oor die bybelvers in die prentjie gaan skryf, gaan die post 'n boek wees en gaan julle nie lees nie.😬😄
So ek gaan dit kort en kragtig hou!
Laat die woord van God práát!

BELEDIG TER WILLE VAN CHRISTUS:
Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie.
Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.
Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.
Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus.

DIE GEES VAN GOD IS OP JOU:
Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.😊👐♥️🕊️(Ek word baie beledig ter wille van die Naam van Christus. Ek is seker julle ook wanneer julle oor Hom praat, veral hier op sosiale media.)
As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy 'n moordenaar is of 'n dief of 'n misdadiger of 'n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie.
Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.
Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God.
En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie?
“As 'n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van 'n goddelose en 'n sondaar?”
Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.
1 PETRUS 4:12‭-‬19


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking