Saterdag, Desember 27, 2014

Praat! Moenie vrees nie

Lê meer waagmoed aan die dag om die woord van God onbevrees te verkondig en moet geensins bang wees vir jou vyande nie.  Wanneer ons ons nie deur ons vyande laat afskrik nie, is dit vir hulle 'n teken van ons redding, maar van hulle ondergang.  Dit is 'n voorreg om Christus te dien en nie alleen net om in Hom te glo nie, maar om ook vir Hom te ly.  Dit is 'n voorreg!

"Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie.  Dit is vir hulle 'n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God.
God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly."
~•Filippense 1:14,28-29

Dinsdag, Desember 23, 2014

ALMAL EEN in Jesus Christus

Ek skrywe dié om mense te waarsku teen Christene wat soos Judaïseerders wil optree en vir ons, wat vrygemaak is in Jesus Christus, kom vertel ons moet die Joodse feeste vier en wat nog alles en dan kom hulle teen ons wat Kersfees vier, Jesus se geboorte!
'n Engel het in die Bybel vertel hoe mense verheug sal wees oor Johannes die Doper se geboorte (Lukas 1:14), nou hoe nog te meer moet ons verheug wees oor ons Jesus se geboorte! :)
Hoe kan dit 'n sonde wees om Jesus se geboorte te vier?  En kamtig omdat dit nou op 'n datum gedoen word wat heidene iets gevier het tot hulle afgode.  Hulle het nie reg op dae en datums nie!  Alle dae behoort aan God!  Deur Jesus word alles heilig gemaak.  Ons vier Jesus Jesus Jesus, geen afgode nie!  Ons gaan nie terug na die Joodse manier van doen nie.
Daar is nie meer Jood of Griek nie, ons is nou almal EEN in Christus.

Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie.  Ek moet hulle ook lei.  Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.
~•Johannes 10:16

Dit maak dus geen verskil of 'n mens 'n Jood of 'n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik,
want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
~•Romeine 10:12-13

en moenie vir mekaar lieg nie.  Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek
en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van God.
Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie.  Hier is Christus alles en in almal.
~•Kolossense 3:9-11

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie:  in Christus Jesus is julle almal één.
~•Galasiërs 3:28

Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.
Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom;  die werklikheid is Christus.
Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie.  So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink,
en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie.  Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.
~•Kolossense 2:16-19

Die waarheid sal jou vrymaak! ^_^ ♥


Donderdag, Desember 18, 2014

Die Heilige Gees in jou is groter

Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde.
Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp.  
3 As iemand 'n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 
4 is hy verwaand en weet hy niks. Hy het 'n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery,  
5 voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak.  
6 Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het,  
7 want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.  
8 As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.  
9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word.  
10 Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.
~•1 Timoteus 6:2-10
 
Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.
~•1 Johannes 4:4 
 ╠╣ALLELUJA !!

Donderdag, Desember 11, 2014

Hofsake tussen Christene

Daar lees ek toe nou in 1 Korinthiërs 6 van Christene wat mekaar hof toe vat.

Apostel Paulus het dit teen die gelowiges dat hulle mekaar hof toe sleep voor heidense regters.  Hy sê dat ons as gelowiges eendag die engele en die wêreld sal oordeel, maar ons kan nie eens geskille onder mekaar oplos nie.

Dan kom nog iets na my wat in die Bybel geskrywe is, van die ander wang draai en as een jou bokleed wil vat, gee hom sommer jou onderkleed ook!  As iemand jou goed vat moet jy dit nie terugeis nie.

Mense, ek wonder hoeveel van ons sal dit doen!  Ek kyk hier op die internet hoe die mense reageer en kommentaar lewer op nuusgebeure.  Die haat, die bitterheid, die vloeke, stroom uit hulle harte uit.  Nou wonder ek hoe hulle in hulle daaglikse wandel teenoor hulle naaste optree?  En sommiges van hulle is Christene, as jy na hulle Facebook profiele kyk.
Hulle bely God met die tong, maar hulle harte is ver van Hom af.

Nee mense, ons moet waarlik soos Jesus Christus optree.  Hy het soos 'n Lam ter slagting na die kruis gegaan.  Hy was stil, nederig, vol vrede, nie histeries geskree, gevloek en baklei nie.  Hy het Hom nie teëgesit nie.

Nou wonder ek wat as ek as Christen deur 'n ongelowige hof toe gevat word?  Ek reken ons moet dieselfde optree as teenoor 'n Christen broeder, ons moet vergewe en probeer vrede maak en skik, sodat daar nie haat en bitterheid ontwikkel wat soos 'n kanker aan mens vreet en versprei en baie mense affekteer nie.

Mag ons Here Jesus ons help en lei in elke situasie, sodat ons wyse besluite kan maak wat God tevrede sal stel.  Ons kan God net tevrede stel deur soos Jesus te wees, gewillig om alles op te offer.
Jesus sê, tel elke dag jou kruis op en volg Hom.

~•~Gaan lees in 1 Korinthiërs 6 meer oor dit~•~

God is getrou

'n Tyd terug het ek geblog oor God se beskerming en ek is weer terug om vir julle te vertel dat God getrou was en toe ek en my man na 2 dae se wegbreek terugkom by die huis, was alles veilig net soos ons dit gelos het!  Is ons God nie dierbaar nie?  Ek het nie genoeg woorde om Hom te beskryf nie!

Ek is God ewig dankbaar vir Sy beskerming.  Ek skryf dit om vir julle te sê hou goeie moed en moenie twyfel of bevrees wees oor enigiets nie, hou net aan vertrou op die Here se goedheid, want Sy genade is vir ons genoeg.

God seën julle wat hier lees in Jesus Christus se Heilige Naam.

Donderdag, Oktober 30, 2014

Die Here my veilige vesting

Die Here is my vesting, nie die duiwel of sy demone nie, maar die Here my God Yahweh!
Die Here bewaar my uitgang en my ingang.  Dankie Here Jesus dat U my Redder, my skuilplek, my sterk toring, my veilige vesting en my ROTS is!

In Engels praat hulle van strongholds, die duiwels kan 'n stronghold op jou hê, 'n houvas op jou.  Hulle hou jou gevange, in kettings, soos in 'n kerker (geestelik), maar ons wat aan ons Here Jesus behoort word beskerm in Hom, Hy maak ons vry, Hy is ons vesting, presies die teenoorgestelde van wat die demone met jou doen.

Die Here is my vesting!  Van my sê my God: "Jy is Myne!"
Dankie Abba! ♥

Die Here is my rots, my skuilplek en my redder,
my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.
•~Psalm 18:3

Woensdag, Oktober 29, 2014

Sy Vaandel oor my is Liefde

Hy het my in die wynhuis ingebring, 
en sy vaandel oor my was die liefde.
•~Hooglied 2:4



©LisaMDSkinnerArt

Maandag, Oktober 27, 2014

God se beskerming

Ek wil graag met julle deel hoe God in my lewe werk.

Die duiwel se gunsteling taktiek met my is, om my aan te val met vrees, want hy weet baie goed as ons vrees, dan bekommer ons en ons twyfel of God ons regtig sal help, sal beskerm en dit liewe mense is ongeloof en ons weet dat sonder geloof kan ons God nie tevrede stel nie.
Maar met die Here se hulp het ek nou al geleer om te onderskei wanneer die duiwel besig is om my aan te val.  Ek vrees nie meer nie.  God is getrou en Hy gee vir my Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, omdat ek daaroor bid.  God is so dierbaar, so liefdevol, so goed.

Waar ons bly is baie inbrake.  Twee keer is daar al by ons garage ingebreek en daar was nog 'n paar pogings, maar hulle is onderbreek.  Selfs 25 jaar terug, die aand voor ons moes intrek, toe probeer 'n ou hier inbreek!  Maar God is baie goed vir ons.

'n Paar aande terug was my man by die werk besig met nagskof en ek was by die huis alleen.  'n Skelm kom sluip toe hier rond en laat die sekuriteitslig aan die kant van ons huis aangaan.

Die rede hoekom ek dit vertel, is om vir julle te wys hoe die duiwel te werk gaan.  Ek en my man gaan binnekort vir 2 dae weg en ek was baie bekommerd om die huis so alleen te los, veral met al die inbrake.  Maar ek het besef God is nie tevrede met my nie.  Ek het al my vrese en bekommernisse vir Hom gegee in gebed!  Ek plaas al my vertroue in die Here Jesus Christus!  God is in beheer!  Ek wil nie die Heilige Gees bedroef maak deur bekommerd en bevrees te wees nie.  Bekommernis is 'n teken van ongeloof en ons weet sonder geloof kan ons nie vir God tevrede stel nie.

Die duiwel sal enigiets probeer om jou geloof te ondermyn, om jou te laat vrees, bekommer, twyfel, want hy haat vir jou en hy haat die feit dat ek en jy op God vertrou.  So ek is hier om vir jou te vertel moenie bekommer oor enigiets nie!  Vertrou op Jesus!  Is enigiets onmoontlik vir God?  Niks is onmoontlik vir ons God nie!  Hy het ons lief en Hy sorg vir die regverdiges.  Die Bybel sê die regverdiges sal deur baie rampe getref word, maar die Here red ons uit hulle almal!

Die beste van alles is hoe die Here my lei in Sy woord.  Die volgende oggend lei Hy my na Jesaja 52:12.

Julle hoef nie haastig pad te gee nie, julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:  Die Here gaan voor julle uit, die God van Israel kom agter julle aan.

Daardie aand bevestig die Here Sy woord deur 'n suster in Christus wat die profetiese gawe het, maar wat niks van my weet nie en ek sien haar FB status in Engels wat sê:  (vertaal deur my)

Ek hoor die Here sê, Ek het jou vyande onderskep, want jou vyande is ook My vyande.  Dit is alles nou verby.  Die pad is nou duidelik.  Niks meer oor jou skouers loer nie, want jou Here beskerm jou voorkant, jou agterkant en al jou kante.  Loop nou op die pad waar bandiete, diewe, rowers en moordenaars verbied is om jou, my gesalfdes, in hierdie seisoen aan te raak.  Rus My dienaars, want die Here beskerm jou, want jou vyande is ook My vyande.

Sien jy hoe God praat?  Is Hy nie kosbaar, liefdevol en beskermend teenoor die wat aan Hom behoort nie?  Hy het 'n duur prys vir ons betaal!...ons gekoop met Sy Bloed!  Ons is Syne!
Halleluja!  Prys die Here o my siel!  Ek het U so baie lief Here Jesus!  Geseënd is U Heilige Naam Here! † ♥


Vrydag, Oktober 24, 2014

Vals Apostels

So 'n paar dae terug het ek opgelet hoe gou iemand van profeet na apostel bevorder word.
Dit lyk my deesdae is elke Jan Rap en sy maat 'n apostel, meestal selfaangestelde apostels.
Jy sal hulle ken aan die vrugte wat hulle dra!

Vanoggend lei God my in Sy woord na 2 Korinthiërs 11 waar Paulus van vals apostels praat.  Later toe trek God my aandag terug na iets wat ek gister oor Openbaring 2 gedeel het.
Hy bevestig net wat ek oor gedink het en wat ek onderskei tussen waar of vals.  God ken ons elke gedagte!

Ons moet waaksaam wees en vir God vra vir wysheid en onderskeidingsvermoë in hierdie laaste dae wat so vol misleidings is.  Hy sal vir ons mildelik gee, sonder verwyte, maar ons moet in geloof bid, sonder om te twyfel, want as ons twyfel, moet ons nie verwag om iets van die Here te ontvang nie.

Toe ek by julle was en geld kortgekom het, het ek niemand lastig geval nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ruim in my behoeftes voorsien. Ek het gesorg en sal ook verder sorg dat ek in geen opsig vir julle 'n las word nie.  
10 Hierop is ek trots, en so seker as die waarheid van Christus in my is, sal niemand in die hele Agaje my dit ontneem nie.  
11 Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet ek het julle lief. 
12 Soos ek nou maak, sal ek voortgaan om te maak. Daarmee sal ek vir dié mense wat 'n aanleiding soek om te roem dat hulle net sulke apostels soos ons is, elke aanleiding daartoe ontneem.  
13 Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. 
14 En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.  
15 Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.
•~2 Korinthiërs 11:9-15

Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is.
•~Openbaring 2:2 

God sal voorsien

Daar was 'n droogte en 'n hongersnood in Israel.  Dit was straf vir koning Agab se vreeslike sondes teen God.  Hy het meer gesondig as al sy voorgangers.

God stuur toe vir Elia met 'n boodskap na die koning om hom van die droogte te vertel.  Elia was in gevaar van vervolging en daarom stuur God hom toe na 'n spruit om te gaan wegkruip.  Daar het God Elia van water voorsien en Hy het hom van kos voorsien wat deur 'n kraai na hom gebring is!  Mettertyd het die spruit opgedroog en God stuur Elia toe na 'n ander plek waar Hy 'n weduwee aangesê het om vir Elia te sorg.

Daar gekom vra Elia vir haar water en nes sy wou gaan water haal vir hom, vra hy vir haar 'n stukkie brood.  Sy vertel hom toe dat sy net genoeg meel en olie het om vir haar en haar seun iets te ete te maak en dan wag hulle maar om te sterf (as gevolg van die hongersnood).
Elia sê toe vir haar sy moenie vrees nie, sy moet vir hom 'n broodjie bak en dan vir haar en haar seun, want God sê die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat Hy dit weer laat reën.  Alles het net so gebeur soos die Here gesê het.

Toe raak die weduwee se seuntjie baie ernstig siek en hy het gesterf.  Elia smeek toe die Here om die kind op te wek en die Here het sy gebed gehoor en die kindjie weer laat lewe.

Kyk nou net hoe sorg ons Here vir ons, ons Jehova Jireh, die Here ons Voorsiener.  Ons sien Elia se gehoorsaamheid aan God, sy vertroue in God.  Daar was 'n droogte!  God het hom van water voorsien.  Daar was hongersnood!  God het hom op 'n wonderwerkende wyse van kos voorsien.  Daar was dood, God het lewe gegee!  God is so wonderbaar, so liefdevol en goed vir Sy getroue kinders.

Laat ons nooit vergeet om getrou te bly aan God en op Hom alleen te vertrou wat ookal ons situasie is nie.  God het altyd 'n plan en sal altyd in ons behoeftes voorsien.  Kyk net hoe klee Hy die blomme in die veld.  Kyk hoe sorg Hy vir die voëls.  Jy is baie meer werd as hulle!

6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

14 So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

21 Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”
22 Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.
 •~1 Konings 17:6,14,21-22

Maandag, Oktober 20, 2014

Leef soos Jesus

Lewe ons soos Jesus?  Doen ons wat Hy vir ons sê om te doen of nie te doen nie?

Die Skrif sê vir ons dat as ons waarlik in Christus is en Hy in ons, dan sal ons leef soos Jesus gelewe het.  Nou hoe weet ons hoe Jesus geleef het?  Hoe weet ons wat Hy vir ons beveel om te doen of nie te doen nie?

Lees die woord van God, kosbare mense.  Alles wat jy nodig het om te weet is daarin.  Dit is soos 'n skatkis vol pêrels van wysheid.  God praat deur Sy woord.  Hoe kan ons 'n goeie verhouding met Hom hê, wanneer ons nie stil raak en luister wat Hy vir ons sê nie?  Hy praat met jou deur Sy woord.  Maak oop jou Bybel en ontdek wat alles in daardie skatkis weggesteek is.  Sy Woord sal jou verander.  Jou denke sal verander word.  Jy sal 'n hele nuwe manier van dink oor dinge ontwikkel.

Geniet jou verhouding met die Lewende God.  Hy maak jou 'n nuwe mens.
Wie Sy woord egter gehoorsaam — in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.  Hieraan weet ons dat ons in Hom is.
Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.
•~1 Johannes 2:5-6

Sondag, Oktober 19, 2014

Die Geheimenis Geopenbaar

Wat is hierdie geheimenis wat Paulus hier in Kolossense 1 van praat?  Die geheimenis is 'n seën vir die nasies!  Die geheimenis is Christus in ons!  Christus is ons hoop op die heerlikheid.
Is dit nie wonderlik nie?  Dink daaraan mense, kom na Jesus, julle wat Hom nog nie ken nie.  Hy kom woon binne in jou hart die dag wanneer jy tot bekering kom.  Absoluut wonderbaar!  Ons liefdevolle, genadige God.  Hallelujah!  Prys ons Here Jesus Christus!  Dankie Abba!

Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. 
 27 God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.
•~Kolossense 1:26-27

Saterdag, Oktober 18, 2014

Vertrou op Jesus

Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,  
2 sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 
 3 Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. 
4 Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” 
5 “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”
6 En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.  7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.
8 Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.”
9 Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het.  
10 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” 
11 En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.
•~Lukas 5:1-11
Is Jesus nie wonderlik nie?  Jesus het gepreek vir die mense en Simon het geluister wat Hy sê en Jesus moes 'n groot indruk op Simon gemaak het, want toe Jesus vir hom sê om by die diep waters die nette te gaan uitgooi, toe doen hy dit.  Hy kon dit gelos het, want hulle het mos alreeds probeer, maar het niks gevang nie.

Omdat hy gehoorsaam was, toe vang hulle soveel dat hulle nette wou skeur en hulle bote amper gesink het!  Kyk net hoe seën ons Here ons wanneer ons vir Hom luister en op Sy woord vertrou!

Simon was so oorweldig deur Jesus se heiligheid, hy was onmiddelik bewus van sy sondige toestand.  Om in Jesus se teenwoordigheid te wees, maak ons intens bewus van ons sondige natuur.  Wanneer Hy in ons harte kom woon, dan begin Hy ons skoonmaak.  Die Heilige Gees maak ons bewus van enige sonde wat ons moet laat staan, enigiets wat Hom bedroef maak.

Luister na die stil, innerlike stem van God en doen wat Hy sê.  Hy sal ons seën, so oorvloediglik dat ons nie genoeg plek sal hê om dit te stoor nie!  Die beste van als, as ons gehoorsaam is aan Hom het ons die ewige lewe.

Laat ons vir mense vertel van hierdie wonderlike God van ons, wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat almal wat in Hom glo, nie sal vergaan nie, maar die ewige lewe sal hê.  God wil nie dat enigiemand verlore moet gaan nie.  Hy wil hê dat die slegte mense van hulle sondes sal bekeer en in Hom moet glo en vertrou.
Laat ons mense vertel van hierdie Jesus.  Wanneer ons gehoorsaam is in dit, sal Hy ons seën om baie siele na Hom te bring en Hy sal hulle skoonmaak, ons moet hulle net vertel!

Artwork:

Storms in jou lewe

God kan 'n storm in jou lewe bring om jou geloof te toets.  Jy mag 'n regverdige lewe lei en God dien, maar dit beteken nie dat daar nooit moeilikheid oor jou pad sal kom nie.
Ons moet deur die vuur gelouter word, sodat die egtheid van ons geloof, wat meer waardevol is as goud, getoets kan word, sodat wanneer Jesus weer kom, dit lof, heerlikheid en eer waardig mag wees.
Sodat ons Hom kan hoor sê "mooi so goeie en getroue dienaar".  Dat ons konstant en standvastig in ons geloof gevind mag word.

Al wat jy hoef te doen is om te vertrou op Jesus, op Hom alleen.  Roep Hom aan in jou tyd van benoudheid!  Hy sal saam met jou deur die storm gaan en Hy sal die storm kalmeer en Hy sal jou uit die storm uit bring.  Loof Hom tydens die storm, wees lief vir Hom!  Laat Jesus jou sterk toring wees na wie jy hardloop vir beskerming.

God sê dat die regverdiges baie probleme sal hê, maar Hy sal ons uit al ons probleme red.  Is dit nie gerusstellend om te weet dat ons nie ons storms alleen tegemoet hoef te gaan nie?  God gaan saam met ons daardeur.  Vertrou op Hom, Hy is die Here jou God.  Die Here beplan vir ons voorspoed, nie teëspoed nie.  Hy wil vir ons 'n toekoms gee, 'n verwagting.

Op sy bevel het 'n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag.
Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei.
Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar.
~Psalm 107:25,28-29