Saterdag, Augustus 25, 2018

'n Oop hand

Geseënde dag vir julle in Jesus.🤗♥️
Mag Vader julle en julle families bewaar van die bose. Dankie Here Jesus.🙏♥️🕊️

Ons moet mekaar as gelowiges help waar daar 'n behoefte is. Ons moet 'n oop hand hê vir mekaar en gee binne ons vermoë, soos ons Here ons geseën en voorspoedig gemaak het en Hy sal in elke behoefte van ons ryklik voorsien.
Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.
Dit wys ook ons dra goeie vrug en ons beloning wag vir ons in die hemel.♥️
🕊️🍇🍑🕊️🍇🍑🕊️🍇🍑🕊️🍇🍑🕊️🍇🍑🕊️
Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.
Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker.
Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het.
Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.
Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
FILIPPENSE 4:16‭-‬20

Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.
PREDIKER 11:1


Vrydag, Augustus 24, 2018

Vergeld nie goed met kwaad nie

Goeie dag dierbares.🤗♥️ Mag julle dag geseënd wees en laat ons net goed doen aan ander tot eer van ons Koning Jesus se Heilige Naam.♥️🕊️
Laat ons asb. bid:
Abba Vader in Jesus se Heilige Naam sê ons dankie vir U kosbare woord wat waarlik 'n lamp vir ons voete en 'n lig vir ons pad is. Dit help ons om die regte weë te bewandel, om op die nou paadjie te bly en nie af te wyk na die breë weg nie.
Help ons asb. Here ons God, dat ons sal gehoorsaam wees aan U woord en so sal ons gehoorsaam wees aan U wet van liefde, wanneer ons in die liefde wandel, liefde teenoor U en liefde teenoor ons naaste, want ons is onder die wet van Christus, die wet van die liefde. Dankie Here. Amen.

Wanneer ons mense wat aan ons goed doen, iets sleg aandoen, sal bose dinge oor ons kom.
Wie wil tog hê dat iemand slegte dinge aan hulle moet doen?
Laat ons doen aan ander wat ons wil hê dat hulle aan ons moet doen en ons wil tog hê dat mense ons liefdevol en viendelik moet behandel en net goed moet doen aan ons.

Laat ons as Christene 'n lig wees in hierdie wêreld, immers woon die Gees van die Lig van die wêreld, die Gees van Christus, in ons.🙂

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
MATTEUS 7:12


Donderdag, Augustus 23, 2018

Smag na God

Goeie dag vir julle!🤗❤️ Vader seën julle in Jesus se Heilige Naam.🙏
Soek die Here, vertrou slegs op Hom, want die Here sal nooit iemand wat Hom soek, in die steek laat nie.  Die Here kyk vanuit die hemel na ons mense om te sien of daar één is wat Hom soek!  Soek na Hom, smag na Hom, ons hele liggaam moet verlang na Hom soos 'n dor land sonder water.  God sê as jy Hom soek, sal jy Hom kry.  God het hulle lief wat Hom liefhet.  Soek die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al die dinge wat ons nodig het, sal vir ons gegee word.  Bid, en God sal vir ons gee!  Soek Hom oor dit wat jy nodig het en jy sal dit kry.  Klop aan Sy deur, Hy sal vir jou oopmaak!😁❤️Halleluyah! Dankie Abba! Dankie Here Jesus!👐❣️
https://youtu.be/LKErv0nYkOc

🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️
Dié wat u Naam bely, vertrou op U, want niemand wat U soek, laat U in die steek nie, Here.
PSALMS 9:11

Die Here kyk neer vanuit die hemel op die hele mensegeslag om te sien of daar één verstandige is, één wat vir God soek.
PSALMS 14:2

O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water.
PSALMS 63:2

Ek het hulle lief wat my liefhet. Hulle wat na my soek, sal my kry.
SPREUKE 8:17

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
MATTHÉÜS 6:33

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.
MATTHÉÜS 7:7
🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️


Maandag, Augustus 20, 2018

Die Trooster

Ek groet julle in Jesus se Naam.🤗♥️ Mag God ons Vader julle seën in Jesus se heilige, lieflike Naam.🙏♥️🕊️

Ek lees vanoggend in Klaagliedere en Jeremia betreur sy volk se lot en hy huil en noem dat daar geen trooster is om te vertroos nie.
Ek dink toe aan ons vyand, die kommunisme, want kommunisme is teen Here Jesus, teen Christenskap. Dinge lyk so donker, asof die kommunisme gaan oorneem. Mens wil moedeloos voel, mens huil oor die dinge in gebed. Jeremia het in sy verdriet gevoel dat niemand kan troos nie, maar ons Here Jesus het, toe Hy opgevaar het na die hemel, Sy Gees gestuur.  Ons het die Gees van Christus en Hy is ons Trooster.
Ek weet die woord sê Hy oortuig die wêreld van sonde en van geregtigheid en van oordeel, maar Hy is ook die Trooster en waarlik Hy troos ons harte wanneer ons bedroef is, Hy lig ons hoof weer op. Ek het dit al soveel keer ervaar. Maar ons moet práát met God, uitroep na Hom, en Hy sal altyd help. Moenie bang wees vir Hom nie.  Ons mag nou met vrymoedigheid God se teenwoordigheid betree, die troon van genade nader, danksy Jesus se bloed, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.🙏👐🤲 Dankie Here ons Goeie Vader!♥️
Ons het hoop in Jesus vir ons land en al ons land se mense. Vir die Here is niks onmoontlik nie.♥️🕊️ #VolhardInGebed #Glo #Vertrou

Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.♥️
SAGARÍA 4:6

Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;♥️
JOHANNES 16:7

TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.♥️
HEBREËRS 10:19

Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.♥️
HEBREËRS 4:16


Sondag, Augustus 19, 2018

Hanna se gebed

Geseënde dag in Here Jesus vir julle.🤗♥️

Vandag toe vat die Here my na Hanna se gebed. Ons moet die Here ons God loof, Hom prys, Sy Naam hoog lig!
Ons moet ook reguit ons vyande en die vyande van God aanspreek wanneer hulle hoogmoedig is en aanmatigende dinge sê, soos Hanna gedoen het!
Vers 3 het my weereens aan sekere politici laat dink. Die Here sal die boog van die magtiges verbreek (hulle dink mos hulle is so magtig, praat selfs teen die Allerhoogste se Gesalfde!).
Vroeëer of later gaan die Here hulle straf!

Ek bid vir hulle, want hulle woorde kom van bose geeste. Ek bid vir hulle verlossing, goddelike wysheid en insig en liefde in hulle harte vir dié vir wie hulle so haat.🙏♥️🕊️

🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏🔥🙏🕊️🙏🕊️🙏🕊️🙏

En Hanna het gebid:

“Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here.
Ek lag my vyande uit, ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het.
Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie.
“Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie, want die Here is 'n God van diepe kennis, dade word deur Hom getoets.
“Die boog van die magtiges is verbreek, dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry.
“Die Here maak dood en Hy maak lewend, Hy laat afdaal na die doderyk toe en Hy laat daaruit opkom.
Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle 'n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves.
“Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad, maar die goddeloses word stil gemaak in die duisternis van die graf.
'n Mens oorwin nie deur eie krag nie!
Dié wat teen die Here in opstand kom, word vernietig, van bo uit die hemel verbrysel Hy hulle.
Die Here spreek reg tot by die eindes van die aarde, Hy verleen krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”
1 SAMUEL 2:1‭-‬4‭, ‬6‭-‬10 AFR83


Saterdag, Augustus 18, 2018

Owerstes van Sodom, volk van Gomorra

Blye dag vir julle in Jesus.🤗♥️
God ons Vader seën asb. die woorde wat hier uitgaan in Jesus se Heilige Naam. Dankie Here.🙏

Kyk wat het die profeet Jesaja, die volk van Israel genoem! Onlangs toe sien ek 'n straatprediker in Israel preek tydens hulle 'Pride Parade' en toe ek vanoggend hierdie Skrif in Jesaja lees, toe dink ek aan Israel en hulle 'Pride Parade' vieringe.😥 Hulle was so destyds en vandag gaan dit nog erger. Dit is nie net Israel nie, kyk na die res van die wêreld...almal doen dit. So vandag pas ek dit toe op alle volke. Sodom en Gomorra was nie net skuldig aan seksuele sonde nie, maar allerhande bose dinge, moord ens. ook.

Ek kan net sê dankie Abba vir Sy grote genade en liefde vir die hele wêreld toe Hy Here Jesus vir ons gestuur het (Joh. 3:16) om ons te kom verlos van ons sondes en ons straf wat Hy in ons plek op Hom geneem het! Dankie Here onse GOEIE GOD!👐♥️🕊️ #Glo #Geloof #bekering
Lees asb. die Skrif verse wat volg en let op wat ek uitwys. Baie dankie.🕊️

Hoor die woord van die Here, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!
Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om my voorhowe te vertrap?
Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My.
Nuwemane en sabbatte,
die uitroep van samekomste —
Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!  👉Julle nuwemane en julle feestye
haat my siel; hulle is My ’n oorlas.👈
Ek is moeg om dit te dra.

En as julle jul hande uitbrei,
bedek Ek my oë vir julle;
ook as julle die gebed vermenigvuldig,
luister Ek nie: julle hande is vol bloed. 

Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,  leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.
JESAJA 1:10‭-‬17

En Hy het sy eie omheining soos ’n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes;  👉die Here het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet,👈 en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp.
KLAAGLIEDERE 2:6

👉Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie,👈  wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.
KOLOSSENSE 2:16‭-‬17


Vrydag, Augustus 17, 2018

'n Deugsame vrou

Geseënde dag in Jesus, kinders van die Here!🤗♥️
Manne van God, kyk wat sê God se woord oor julle...dat julle die goedheid van die Here geniet wanneer julle 'n vrou kry, want julle vind dan geluk!😁 Geniet julle vrouens, waardeer hulle. Wees lief vir hulle soos Christus Sy kerk liefhet.   God seën julle huwelike en jong mense, hou julleself rein vir die huwelik, God sal julle seën! En diegene wat nie hulleself rein gehou het nie, daar is genade en vergifnis in Jesus Christus, jy moet bely en vergifnis vra vir God.

En kyk daai vers oor die stuk grond wat sy koop🙂.... sy gaan vat nie 'n stuk grond wat iemand anders alreeds op woon en voor betaal het nie! Hoor julle ANC, wat alle grond vir julleself as regering wil inpalm!🤔

(Ek soek deur die stickers vir 'marriage/wedding' stickers om een saam met dié post te plaas, en dit is net selfde geslag stickers, nie heteroseksueles nie.🤔)

Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
EFESIËRS 5:25

’n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos ’n verrotting in sy gebeente.
SPREUKE 12:4

Van sy ouers kan iemand 'n huis en besittings erf, maar 'n verstandige vrou is 'n geskenk van die Here.
SPREUKE 19:14

'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.
Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.
Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank.
Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het.
Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie.
As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.
Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie.
Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word.
SPREUKE 31:10‭-‬12‭, ‬16‭, ‬20‭-‬20‭, ‬25‭-‬27‭, ‬30


Donderdag, Augustus 16, 2018

Waak oor jou gedagtes

WAAK OOR JOU HART, JOU GEDAGTES.
Geseënde dag vir julle in Jesus.
Daardie vers is só waar! Ons moet waak oor ons gedagtes. Dit wat ons dink, wat kom uit die hart, bepaal ons hele lewe, want in ons harte is waar die sonde begin. Soos Mattéüs 15:19 ook sê: "Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal."
Al daai dinge bepaal ons hele lewe. Ek het eerstehandse ervaring van dit. Dinge wat mens nooit ooit moes gedoen het nie, maar in mens se selfsugtigheid dink jy nie aan die gevolge en aan ander nie.
Geen wonder die woord sê ook in Filippense 4:8, "Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit."
So laat ons nie dink en tob oor verkeerde, bose dinge in ons gedagtes nie. Bv. moenie eens aan selfmoord dink nie! Moenie dobbel met daai idee in jou gedagtes nie, dink eerder aan iets goeds, iets moois, iets lieflik.
Moenie speel met daai gedagte om met 'n skelmpie 'n vlugtige oomblik van vleeslike lus te bevredig nie. Dit kom op die lappe en jou gedagte het jou hele lewe bepaal, jy skei dalk oor dit, dan voel jy so skuldig en oorweeg selfmoord, jou kinders is gebroke en het issues oor dit,' n hele kettingreaksie, domino effek, het jou een onheilige gedagte tot gevolg, dit bepaal jou hele lewe.
WAAK OOR JOU HART, JOU GEDAGTES.
#WaakOorJouHart #BedinkLieflikeDinge

Woensdag, Augustus 15, 2018

Die Gees van God is op jou

Goeie dag en mag God julle in alle opsigte vandag seën. Staan sterk, bid, druk deur as jy sukkel om op te hou met 'n verslawende gewoonte. Die Here is jou krag!♥️ Vra Hom. Jy kan dit doen. Die begeerte in jou hart om op te hou moet opreg wees. Deur Sy Gees sal die Here dit doen in jou lewe. Hy hou jou vas met Sy reddende regterhand. Hy maak daai deur toe in jou lewe en deure wat Hy toemaak kan niemand weer oopmaak nie.
Iemand het vir gebed gevra, want hulle wil ophou rook.  Ek gaan haar vra of ek haar naam hier kan opsit vir gebed. Dan kan ons haar in ons gebede opdra vir verlossing van die rook gewoonte.
Ek het ook in my lewe gesukkel met 'n verslawing. Ek was te lief vir my wyn. Ek het gesukkel om op te hou. Ek het die Here gevra om my te help, want ek kon nie in my eie krag nie.
Toe raak ek siek van erge bloedverlies en ek word deur die siekte geforseer om op te hou en ek roep uit na die Here om my asb. gesond te maak, dat ek nooit weer alkohol oor my lippe sal laat kom nie as Hy my genees.
Ek het 6 pinte bloed gekry, dokter het gesê ek kon hartversaking gehad het as ek langer gevat het om 'n dokter te sien.
Hy het ook gesê dat my hart 'n knou weg het van die erge bloedverlies wat my hart verskriklik vinnig laat klop het.  Ek het lank gevat om dokter toe te gaan, want ek het gedink dit is as gevolg van die wyn drinkery en ek was skaam daaroor. Kan mens nou so onnosel wees!
Na die eerste pint bloed begin ek al sterker voel, waarlik lewe is in die bloed! ("want die lewe van enige dier is in sy bloed. Ek het vir julle die bloed gegee om daarmee versoening te doen vir julle sondes. Bloed verteenwoordig lewe en dit bring versoening."~LEVITIKUS 17:11 En nou het ons die ewige lewe deur Jesus se bloed wat vir ons versoening met God gebring het deur die Nuwe Verbond in Sý bloed!)

Na 5 dae en 6 pinte bloed stap ek uit daai hospitaal en nie een oomblik het ek ooit 'n begeerte na wyn gehad nie, nog nooit weer nie.

Dit is nou al amper 9 jaar dat ek opgehou het.
Deur siekte het die Here my verlos van die wyn.
Alle eer aan God, want ek kon nie uit my eie nie.  En eers in 2011, omtrent 2 jr later, het ek werklik bekeerd geraak, want die Here het aan my hart gewerk om te bekeer van ander dinge en my sondes te bely wat ek nog nooit gedoen het nie.
Dinge het toe onmiddelik begin verander in my lewe, my musiek smaak en baie ander dingetjies en die Here het nuwe begeertes in my hart gesit en daarom weet ek ek was in 2011 eers werklik bekeerd, want voor dit het ek vir jare gebedjies gedoen dat ek glo in Jesus, maar ek het niks bely en bekeer van my sondes nie, daar was nooit verandering in my nie (bv. die wyn). So ek weet ek was nooit voor dit werklik weergebore nie al het ek myself altyd 'n Christen genoem.
Mense, omdat Ma en Pa Christene is, maak nie vir jou weergebore nie. Om kerk toe te gaan omdat Ma jou laat gaan, maak jou nie weergebore nie. Omdat jou Pa dalk 'n prediker is, maak jou nie weergebore nie.
Dit is 'n persoonlike gebeurtenis tussen jou en God. Ja jy gaan die verlossingsboodskap gepreek hoor, maar dit doen dalk niks aan jou nie, jy gaan maar net aan soos altyd in jou sondige leefstyl.  Ek het!
Hopelik word daai saadjie geplant en later van jare kom gee iemand daai saadjie water en die Here bring die oes in, in Sy tyd, op die regte tyd en jy sal wéét dat jy wéét jy is weergebore. Mense wat jou ken sal oplet jy is anders.

Prys die Here vir Sy genade. Hy is darem baie geduldig met ons tot daai dag wat ons uiteindelik weergebore word.
Goeiste mense, ek het nie bedoel om die boodskap te skryf nie, ek wou oor die vers in die prentjie skryf, maar die Here het my oor iets heel anders laat skryf!☺️ Daar is seker iemand wat nodig het om dit te hoor.♥️

As ek nou oor die bybelvers in die prentjie gaan skryf, gaan die post 'n boek wees en gaan julle nie lees nie.😬😄
So ek gaan dit kort en kragtig hou!
Laat die woord van God práát!

BELEDIG TER WILLE VAN CHRISTUS:
Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie.
Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.
Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.
Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus.

DIE GEES VAN GOD IS OP JOU:
Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.😊👐♥️🕊️(Ek word baie beledig ter wille van die Naam van Christus. Ek is seker julle ook wanneer julle oor Hom praat, veral hier op sosiale media.)
As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy 'n moordenaar is of 'n dief of 'n misdadiger of 'n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie.
Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.
Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God.
En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie?
“As 'n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van 'n goddelose en 'n sondaar?”
Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.
1 PETRUS 4:12‭-‬19


Dinsdag, Augustus 14, 2018

Moenie sondig nie

Goeie dag vir julle kosbare mense.♥️
Mag God ons Vader jou genadig wees en mag Hy jou die begeertes van jou hart gee soos jy jou in Hom verheug. In Jesus se Naam. Dankie Here.
Ons moenie sondig nie. Ons word gesê in God se woord om nie te sondig nie. Ek weet ons as Christene maak foute en daarom sê God se woord ook dat indien ons sondig, het ons vir Jesus as Voorspraak by Vader.
Dit beteken nie ons kan nou lekker voortploeter in sonde nie, want daar is 'n sonde tot die dood toe en dit is opsetlike sonde.(1 Joh. 5:16-17)
Wanneer ons in opsetlike sonde is, wandel ons in die duisternis. Dan lieg ons dat ons die Here ken.
En kyk hoe kan ons keer dat ons teen die Here sondig... ons bêre God se woord in ons harte. :) God se woord leer my wat ek moet en nie moet doen nie en hoe ek moet leef.  Dit sê vir my wat Jesus ons beveel om te doen. Dit waarsku my.
Ek verstaan hoekom die duiwel nie wil hê ons moet Bybel lees nie, want dan groei ons nie geestelik nie.
Toe ek bekeerd geraak het, het God 'n honger vir Sy woord in my hart gesit en ek glo Hy doen dit met elkeen van ons, maar ons raak laks in Sy woord wanneer die wêreld ons terugroep in al sy verleidinge en ons terugval in sonde. Dan hou mense op Bybel lees, want altyd sal die woord wat 'n tweesnydende swaard is, diep tot in ons harte sny en ons waarsku oor ons sonde waarin ons is, en baie van ons wil dit nie hoor nie.
Dank aan ons God vir Sy grote liefde en genade en vir Sy woord wat vir ewig bly. Vir ewig staan God se woord vas in die hemele.

Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
PSALMS 119:11
As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.
I JOHANNES 1:6
My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.
I JOHANNES 2:1

Veg die stryd deur die Gees

Dit mag lyk of ons omsingel is deur die vyand, maar die Engel van die Here trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. (PSALM 34:8) Dit is hoe ons die stryd veg, nie deur krag of deur geweld nie, maar deur die Here se Gees, sê die Here van die leërskare. (SAGARÍA 4:6)

Woensdag, April 11, 2018

Wie Christus verlaat, gaan te gronde

Geseënde dag vir julle dierbare mense.🤗💞

Solank as wat ons volhard in die geloof, die wil van ons Vader in die hemel doen, in Christus bly, is God in staat om Sy dienaars te help om staande te bly in die geloof!

Deesdae sien ek so baie ongelowiges wat sê dat hulle voorheen "Christene was".
Kyk wat sê die woord van God van hulle wat die Here verlaat! Hulle sal te gronde gaan! Hulle sal verteer word.

Dit herinner my aan ons God wie 'n verterende vuur is!🔥

Dit is onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring, want hulle kruisig immers weer die Seun van God en maak Hom openlik tot 'n bespotting.😢

Hulle leef nie meer in geloof nie, hulle lewe nou in opsetlike sonde en daar is nou geen offer meer wat hulle sondes kan wegneem nie, slegs 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.
Soos geskrywe in Hebreërs 6 & 10.

Ere aan God alleen, die regverdiges van die hemelse Sion wie vertrou in Jesus Christus, dié wat hulle bekeer, sal deur die oordeel vrygemaak word deur 'n regverdige beslissing!

Staan sterk soldate van die geloof, soos julle stry vir die geloof onder beproewinge, selfs tot die dood toe, om die wedstryd te voltooi, om die hemelse prys te ontvang, die kroon van die ewige lewe!✝️💞🕊️


Maandag, April 09, 2018

Leef heilig, Jesus kom weer

Goeie dag dierbare mense. God ons Hemelse Vader seën julle vandag in alles wat julle doen. Mag alles wat ons doen en praat en dink vir Hom aanneemlik wees.
Laat ons gedagtes gerig wees op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet ons ons gedagtes rig.
Laat ons heilig lewe, want ons Here ons God kom weer terug en Hy kom terug vir 'n bruid sonder vlek of rimpel, heilig en onberispelik.
Bly weg van alles wat sleg is.
Mag God, wat vrede gee, ons volkome aan Hom toegewyd maak en ons geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat ons onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!
Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou! Halleluyah! Dankie Vader!

1 TESSALONISENSE 5:23‭-‬24 AFR83
FILIPPENSE 4:8 AFR83

☆«´¯`•.¸¸.° JESUS °.¸¸.•´¯`»☆

Donderdag, Maart 29, 2018

Geseënde Paasfees

Geseënde dag vir julle in Jesus se kosbare, Heilige Naam.
Laat ons fokus veral wees op wat Jesus in Sy groot liefde vir ons en die hele wêreld gedoen het. Laat ons vir almal wat nog nie vir Jesus ken nie, vertel van hierdie groot #hoop.
Laat hierdie Goeie Nuus wat soos 'n genesende balsem is, oor die hele aarde versprei.
Geseënde #Paasfees vir jou en jou geliefdes.

#AllesOorJESUS #JESUS #SlegsJESUS #VertelDieWêreld #MoenieTerughouNie #VirKosbareSieleSeOnthalwe #DieKruisWasGenoeg #BloedVanJesus #SonderVergietingVanBloedGeenVergifnisVanSonde #JesusLamVanGod #GeofferVirOnsSondes #Opstandingskrag #JesusHetDoodOorwin #JesusGeeEwigeLewe #VrygemaakVanSonde #NieMeerSlaweVanDieSondeNie #OnsIsDoodVirDieSonde #LeefJouLeweVirGod #LeefHeiligeLewens #SoliDeoGloria #EreAanGodAlleen  ✝️

Maandag, Maart 26, 2018

Dien mekaar

Jesus het gekom om ander te dien, om Sy lewe vir ons te offer. So moet ons ook ons lewens wy aan Hom, deur ander te dien, deur mekaar se laste te dra.  Dit is ware liefde, onbaatsugtige liefde. Alles wat ons vir ander doen, doen ons vir Jesus en eendag in die hemel sal Hy ons daarvoor beloon.
God seën jou.

Maandag, Maart 19, 2018

God van hoop

Goeiedag liewe mense.  Ons Hemelse Vader seën julle in Jesus se heilige Naam.
So 'n tyd terug in die kommentaar op 'n nuusartikel, skryf 'n vrou dat ons geen hoop meer het in die land nie en dat selfs Jesus hoop opgegee het oor Suid-Afrika.
Wat 'n leuen, want die vers op die foto kom toe dadelik na my gedagte.  Waar sal God hoop opgee oor ons land as Hy dan die God van hoop is?!  En Jesus is die fondasie van ons hoop!
Ek kan nie glo Christene praat so sonder hoop, so ongelowig nie.
Laat ons aanhou bid vir ons land vir genesing.  Niks is vir God onmoontlik nie.  God werk met ons geloof.  Laat ons vuriglik bid in geloof.  Sonder geloof is dit onmoontlik om God tevrede te stel.
Ons moet glo dat God ons land sal genees, mense se harte sal genees van al die haat en rassisme en onvergewensgesindheid van beide kante.  Laat ons ook ons deel doen en soos Christus optree en praat teenoor ons naaste.  Die liefde oorwin alles.
Die Here het ons nie vergeet nie en Hy sal ook nooit nie.
Die Here is gretig om ons genadig te wees
en Hy wil Hom oor ons ontferm:
Die Here is 'n God wat reg laat geskied,
en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.
(Jesaja 30:18)
Mag julle 'n vreugdevolle dag hê.
https://youtu.be/z6uSx1oPaNE

Saterdag, Maart 03, 2018

Die Stryd Is Werklik

Die Stryd Is Werklik

Nie Teen Vlees En Bloed Nie

Bose geeste In Die Lug

Mag jou dag geseënd wees in Jesus se lieflike Naam en mag ons Here ons God jou en jou geliefdes bewaar van die bose, want hy loop rond soos 'n brullende leeu, soekend wie hy kan verslind.
Gister op sosiale media is 'n Nigeriër besig om sy voodoo okkultiese dienste te versprei in kommentaar.  Ek berispe hom en bid die bloed van Jesus en God se verterende vuur teen die bose geeste wat hom beet het en ek praat oor die evangelie met hom.  

Die volgende oomblik inbox hy my op FB en sê: "I don't like this.  You worship your God and I worship mine.  Be warned."  

Ek skrik nie vir duiwels nie, ek vrees net ons Heilige God.  Ek het in gebed gegaan en met die Swaard van die Gees (die woord van God) geveg.  Maar ja, so sluip die duiwel oral rond, selfs op die internet, veral op die internet.  Dankie Vader U kinders is op die internet om die leuens van die vyand te weerlê.  

Bly in Jesus en in die woord van God en moenie in opsetlike sondes wees nie, anders het die vyand van jou siel 'n ope deur om jou aan te val.  God seën jou.🤗💞🕊️  #DieStrydIsWerklik


Donderdag, Februarie 22, 2018

Die Strengheid van God

STRENGHEID VAN GOD

 Baie Christene dink net oor die goedheid van God, maar vergeet van die strengheid van God. Laat ons dan ook onthou van Sy strengheid, sodat ons uit Sy goedheid sal lewe, sodat ons nie uitgekap sal word nie.

Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

LUKAS 3:8‭-‬9‭,11


Maandag, Februarie 19, 2018

Is jy dood vir die sonde?

Opsetlike sonde

Opsetlike sonde is die sonde tot die dood toe.  Daar is sonde nie tot die dood toe nie, maar opsetlike sonde is wel tot die dood toe, want Here Jesus het ons vrygemaak van ons sondes.  Die sonde moet nie meer mag hê oor ons nie, want ons is dood vir die sonde.  Christus het gesterf vir die sonde, daarom is ons ook dood vir die sonde, omdat ons een met Christus is.

Hierdie onderwerp is baie ernstig.  Baie Christene is gou om vir die Christene wat waarsku oor sonde, te sê "jy sondig ook'.  Ja, maar ons volhard nie in opsetlike sonde nie.  Daar is 'n groot verskil. Net diegene wat volhard in opsetlike sonde, is dié wat nie wil hê ander Christene moet praat teen sonde nie.  Hulle besef nie hoe hulle woorde wys wat in hulle harte is nie.  Geen Christen moet aanstoot neem as 'n ander Christen praat teen sonde nie.  Ons is dan een met Christus, so hoe dan nou?  Hoekom is ons nie eensgesind oor die sonde nie?  Laat ons onsself ondersoek met die woord van God as ons maatstaf.

Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.
Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie.  
Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 
Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.
Romeine 6:11-14

Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.
Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.
As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?
~Hebreërs 10:26-29

Dinsdag, Februarie 13, 2018

Oë gesluit vir dit wat sleg is?

Ek groet julle in die lieflike Naam van ons Here Jesus Christus.🤗💞  Mag God Sy aangesig vandag oor jou en jou familie en al jou geliefdes laat skyn.

Ons God is 'n ewige gloed! 'n Verterende vuur! Laat ons in heiligheid voor Hom lewe, laat ons daarna streef om nie in doelbewuste sonde te lewe nie. Kyk na daardie laaste deel van die vers, "wat sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie".
Dit laat my dink aan die gemors wat mense op TV en in rolprente na kyk en die gemors wat hulle hulle oë op lê in vieslike tydskrifte.

Laat ons as geheiligdes van God waak oor wat ons oë aanskou.  Laat ons wegbly van bose dinge.  Satan gebruik elke kans om ons te versoek met die begeerlikhede van die vlees.  Hy doen dit deur die dinge waarna ons kyk en waarna ons luister.  Laat ons dan versigtig wees soos slange en slegs die wil van ons Vader in die hemel doen.  Alles tot eer van Sy Heilige Naam.

Hoe is dit tot eer van God se Heilige Naam wanneer Sy bloedgekoopte kinders volhard in doelbewuste sonde?  Dit bewys dat ons nie wandel in die krag van die Heilige Gees nie, maar dat ons nog steeds beheer word deur ons vlees.

Ja ons as Christene sondig wel, maar daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie en daar is 'n sonde wat tot die dood is, doelbewuste sonde.  Doelbewuste sonde is so ernstig dat ons volgens die skrif nie eens vir so iemand moet bid nie!  Iemand wat in doelbewuste sonde is, dryf al hoe verder en verder van Christus af weg en sal op die ou end wegval van Christus, want hulle volhard met doelbewuste sonde en hulle weier om dit te laat staan.  Hulle gewete word geskroei.

Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is.
 ~1 John 3:9 


Woensdag, Februarie 07, 2018

Moenie bang wees nie

 'Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan. hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar, sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf. Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie.' 
JEREMIA 42:11-12,15-17

 

MOENIE BANG WEES NIE

Die Here wil nie hê dat ons moet bang wees nie.  Vrees nie mense nie!  Vrees die HERE!  Moenie bang wees vir regeringsleiers nie.  Soos God sê in Spreuke 21:1, 'Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.'
Doen die Here se wil, wees gehoorsaam aan Sy woord, en Sy wil sal julle vind in Sy woord.
Wanneer ons vrees en nie op die Here vertrou nie en ons vlug weg van dit wat ons vrees, sal dit wat ons vrees ons volg en ons sal dit nie ontsnap nie!

Laat die vrede van die Here wat alle verstand te bowe gaan in ons harte heers deur ons vaste vertroue op Hom en daar sal nie plek wees vir vrees nie.  Kyk wat staan geskrywe in Jesaja 26:3...

'en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. '
Jesaja 26:3


En ons het nie nou 'n profeet nodig wat vir die Here namens ons vra wat Sy wil is nie, nee, ons het almal dieselfde Gees van God ontvang en ons gaan self in gebed na God en kry Sy antwoord aan ons in Sy woord.  Die Here se skape hoor Sy stem en geloof kom deur die gehoor en die gehoor kom deur die woord van God!  Wil jy God se stem hoor?  Lees Sy woord en moenie net hoorders van Sy woord wees nie, maar gaan doen Sy wil, wees gehoorsaam aan Sy woord en so bly jy in Jesus en sal jy baie vrug dra en God tevrede stel.

(En met my woorde oor 'n profeet, verwerp ek geensins die gawe van profesie wat ons van die Heilige Gees ontvang nie, nee.  God se woord sê in 1 Tessalonisense 5:20-22 ons moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.)
En ek gaan nou spesifiek praat van Angus Buchan en die haat wat mense teen hom praat, die lasterlike dinge.  Daar is absoluut niks verkeerd wanneer hy sê dat die Here op sy hart gelê het om gebedsbyeenkomste te reël nie.
Ervaar jy en ek dan nie ook dat die Here in ons alleentyd met Hom, dinge tot ons hart spreek nie?  Ek wonder baie keer of party Christene die stem van die Here deur Sy woord wat tot hulle harte spreek, maar net ignoreer nie, want hulle ag hulleself nie waardig genoeg om van God te hoor nie.  Ons moet ophou met daardie denke.  Ons as gelowiges is deur God waardig genoeg geag om Sy Seun te stuur om vir ons sondes te kom sterwe.  Ons moet ophou om ons ore uit te leen aan die duiwel se leuens aangaande ons.  Weet wie jy is in Christus.
Wanneer ons glo dat God nie met ons praat nie, dan speel ons in die duiwel se hande.

Ons moet ophou om ander te kritiseer wat sê wat die Here tot hulle harte gespreek het deur Sy woord.  Toets elke woord, bly weg van alles wat sleg is (as dit teen God se woord gaan) en behou die goeie en ons kan nie verkeerd gaan nie.  Om gebedsbyeenkomste te reël is iets goeds!  Vader sê dan juis dat Sy huis (die lewende stene, die Christene, Sy kinders, want ons liggame is Sy tempel) sal 'n huis van gebed wees.

Amen.  God seën julle.  Ek kan nie glo die draai wat ek loop met die woord wat ek vanoggend gelees het nie.  So lei die Here se Gees van Waarheid ons.  Ons moet in Sy woord bly en jy sal verbaas staan hoe Hy deur Sy woord met jou praat.

Ek hoop dié woorde, geinspireer deur die Heilige Gees, (want ek het Hom gevra! :)) is vir julle 'n groot bemoediging.  Gaan in vrede en wandel in die liefde van Jesus.♥

Om mee af te sluit, Psalm 97:10 ter bemoediging.

Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,
Hy red hulle uit die greep van die goddelose.


Dinsdag, Februarie 06, 2018

Hemel soos brons

Sondag 24 September 2017 het ek 'n droom gehad en in die droom is die hemel mooi sagte blou kleur soos altyd, maar ek let op die 'tekstuur' van die hemel is hard soos rots.
Nou die dag toe ek weer my nota oor die droom sit en lees, kom dit na my dat daar iewers in die Bybel geskrywe staan van die hemel so hard soos klip of so iets. Ek gaan soek toe, en sowaar dit is so. Dit is simbolies van droogte.
En tot nou die dag het ek geen idee gehad wat dit beteken het nie. Ek glo die Heilige Gees het dit na my gedagtes gebring. Lees hier asb.

Die hemel bo jou sal brons word en die aarde onder jou yster.
Deuteronomium 28:23

Ek sal alles waarop julle staatmaak, laat verdwyn. Daar sal geen druppel reën val nie: dit sal wees asof die hemel van yster en die grond van brons is.
Levitikus 26:19 AFR83

Vrydag, Februarie 02, 2018

Bely sondes teenoor mekaar

Vrede van ons Vader en Here Jesus vir julle.  Ons moet ons sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid, sodat ons genees kan word.  Die Here ons God is ons skild en bewaar ons van alle gevare. Ken Hom in al jou planne, roep uit na Hom, loof Hom, prys Hom, want Hy alleen is waardig en die enigste Een wat ons uit hierdie droogte kan red.
Laat ons in heiligheid wandel. Wees heilig, want ons God is heilg. Ons is nie gemaak om te lyk, te praat en klink soos die wêreld nie. Ons moet uitstaan van die wêreld. Ons moet wees soos 'n lig op die heuwel.
Die wêreld moet getrek word na die lig wat in ons skyn, in ons lewenswandel, in ons dade, in ons woorde.
Hoe kan dit gebeur wanneer daar geen onderskeid is tussen die Here se kerk en die wêreld nie? 
O Here vergewe ons! Bring U afgedwaalde skape terug met U stok en U staf op die smal weg sodat ons kan ingaan by die nou ingang, want daar is min wat daarop wandel en min wat daar ingaan.
 

Maandag, Januarie 29, 2018

Dra vrug of word Loammi genoem

As kinders van God, as Christene, moet ons vrugte dra wat by ons bekering pas.  Indien ons nie vrug dra nie, sal die Here van die wingerd ons takke afsny en ons sal net goed wees vir die vuur.  Die Here sal simbolies van ons sê dat ons is "Loammi", 'n Hebreeuse woord wat "nie my mense nie" beteken.

Wanneer ons nie vrug dra nie, dan is ons besig om in sonde te leef.  Daar staan geskrywe dat om in sonde te leef, opsetlike sonde, 'n sonde tot die dood toe is.  Ons mag nie eens vir een wat besig is met opsetlike sonde, bid nie.

So laat ons ag slaan op ons Here Jesus se woorde en in Hom bly, en ons sal veel vrug dra en Hy sal van ons sê, hierdie is "Ammi", "die Here s'n".  Halleluyah! :)♥


Saterdag, Januarie 27, 2018

Bemoediging vir jou

Goeie dag kosbare mensies.  God seën julle dag.  Ek was vandag baie geseënd toe ek hierdie Skrifverse lees.  Ek versorg my swakke moeder en kyk wat sê dié vers, dat die Here jou sal genees as jy wat omsien na 'n swakke, self siek raak. 
Hy het juis dit vir my gedoen toe ek tydjie terug griepsimptome begin toon het.  My hele lyf was seer en ek het geweet hier kom die griep en ek het my krag so nodig om na my moeder om te sien.  Griep trek my sommer vir 'n hele week plat en tas my hart aan, wel ek het dit gewoonlik erg.
Toe roep ek uit na God en vra Hy moet my help en die griep wegvat van my en sowaar Hy hét! Die lyfseer het weggegaan en die ander simptome het nie eens kans gehad om pos te vat nie.
God is GETROU aan Sy woord! Julle moet net vra en GLO.😊🕊️
Ek bid vir my moeder, maar God het haar nog nie genees nie, maar ek vra elke dag krag vir haar en krag vir my en Hy is getrou!  Ek bekommer nie oor die dag van môre nie, want môre het genoeg van sy eie probleme en my God is alreeds daar!😊❤️🕊️ Mag julle bemoedig wees deur die verse. Baie liefde in Jesus.❤️🌹


Vrydag, Januarie 26, 2018

Soek die Here

Baie weier om na Christus te kom en om Sy genade en vergifnis te soek, sodat hulle kan lewe.  God se wraak sal oor hulle uitgestort word. Laat ons nie van die wêreld 'n afgod maak nie, want die wêreld kan ons nie beskerm nie. Slegs Jesus kan.
Geseënde dag vir jou in die Here. Hy is met jou, Hy alleen beskerm jou, nie jou wapens nie. Vertrou slegs in die Naam van die Here jou God! #Jesus 

Maandag, Januarie 08, 2018

Wanneer dit Hom behaag

Wow! Kyk hoe praat God in antwoord op gebed.
Ek het vandag gebid oor verskeie dinge en ook gelei gevoel om te bid vir ons regeringsleiers, dat God hulle harte sal verander en hulle tot bekering sal lei, hulle sal red. Dat hulle ons land sal regeer volgens Sy Woord, Sy wil en dat baie in hierdie land na Christus sal draai.
(Baie in ons regering is korrup, in rebellie teenoor God, ons heersers hou van oneerlikheid.)
Die volgende is wat God vir my sê deur Sy woord (Psalm 47:10) en deur 'n kommentaar van John Gill (ek hou baie van sy kommentare op Skrifverse):

Die edeles van die volke het vergader — ’n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!
~Psalm 47:10


Die skilde van die aarde is die heersers van die aarde, en hulle is veronderstel om 'n skild, 'n beskerming vir ons te wees. Die Here stel hulle aan en sit hulle af soos Hy wil, en hulle harte is in Sy hande en Hy kan hulle bekeer wanneer dit Hom behaag en hulle bymekaarmaak in Sy Seun en Sy kerk.
Ons veiligheid en beskerming is van die Here wat Koning is oor die hele aarde.
Christus het alle mag in die hemel en op aarde en word hoog verhef aan die regterhand van God, en engele, owerhede en magte is onderhewig aan Hom.
Ek sal aanhou bid vir ons regeringsleiers, want hulle is in God se hande en Hy is die Pottebakker wat uit dieselfde klomp klei die een 'n voorwerp tot eer en die ander tot oneer maak.
Dankie Here dat U in beheer is en dat U wil op aarde gedoen word net soos in die hemel. Amen.

Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
~Romeine 9:21


Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.
~2 Timotheus 2:20


Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.
~2 Korinthiërs 4:7


sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
~1 Korinthiërs 2:5


in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand;
~2 Korinthiërs 6:7